‘ABD’ land in Indië vir IPL

AB de Villiers. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Dan Christian, die Royal Challengers Bangalore se veelsydige krieketspeler, sê hy kan nie wag om saam met AB de Villiers en Virat Kholi te speel nie.

Die 37-jarige Australiër is ’n plaasvervanger vir Chris Morris wat vir ’n rekordbedrag deur die Rajasthan Royals opgeraap is.

Volgens Christian is RCB ’n goeie vertoning aan sy ondersteuners verskuldig, want ondanks ’n sterbelaaide span het hulle nog nooit met die silwerware weggestap nie.

“Hopelik kan ek die span help om vanjaar die knoop deur te hak. Maar dit sal steeds net ’n wonderlike ervaring wees om saam met spelers soos AB en Virat te kolf,” het Christian gesê.

So van De Villiers gepraat.

Die Suid-Afrikaner het homself vandag by die Challengers se bio-veilige omgewing in Chennai aangesluit en RCB het hom op sosiale media met ’n ”ruimteskip het geland”-inskrywing verwelkom.

Sy gewildheid ken geen perke in Indië nie en opgewonde krete, “ABD, ABD!”, weerklink danksy luidsprekers selfs deur leë stadions.

De Villiers het verlede jaar 454 lopies teen ’n treftempo van 158,74 geslaan. Hy het in die proses 23 sesse oor die grenstou gestuur en ’n wedstryd of twee in druksituasies vir sy span gewen.

Hy het sy klas in RCB se finale wedstryd van die toernooi onderstreep toe hy op ’n moeilike kolfblad 56 lopies van 43 aflewerings teen die Sunrisers Hyderabad gemoker het.

Die immergroen 37-jarige voormalige Protea is ook as die beste kolwer in die geskiedenis van die IPL aangewys, terwyl Ravi Shastri (Indië se nasionale afrigter) gepleit het dat De Villiers weer vir die Proteas gekies moet word.

“In hierdie moeilike tye soek wêreldkrieket vir AB de Villiers terug op die internasionale verhoog. Dit sal goed wees vir die spel,” het Shastri op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Bertus

AB is YSTER.