Aiden is die nuwe mik-en-moker-kaptein

Aiden Markram. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Aiden Markram is as Suid-Afrika se nuwe T20-krieketkaptein aangewys nadat Krieket Suid-Afrika (KSA) vroeër bevestig het dat Temba Bavuma nie meer die leisels in dié formaat sal vasvat nie.

Die 28-jarige kolwer het die Sunrisers Eastern Cape na SA20-glorie gelei, terwyl sy goeie vertonings ook gesorg het dat hy as die Sunrisers Hyderabad-kaptein in die komende Indiese Premierliga (IPL) aangewys is.

Markram is tans die Proteas se beste kolwer op die internasionale T20-ranglys en hy slaan sy lopies teen ʼn spoggerige gemiddeld van 38,21 en ʼn treftempo van amper 150.

Bavuma is nie vir die T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande oorweeg nie, maar hy sal wel die Suid-Afrikaners op die veld in die vyftigboulbeurtwedstryde lei.

“Ek wil Aiden met sy aanstelling gelukwens. Hy is vertroud met leierskap en hy het spanne al op soveel verskillende vlakke aangevoer. Hy is ʼn speler wat vertroue inboesem en hy kan beslis ʼn sukses van sy nuwe pos maak,” het Enoch Nkwe, KSA se direkteur van krieket, gesê.

Rob Walter, Suid-Afrika se nuwe witbalkrieket-afrigter, is ook opgewonde oor die Makram-era.

“Hy werk goed saam met almal en hy lei beslis deur sy voorbeeld. Ons glo dat hy die span na ʼn hoër vlak sal neem,” het Walter gesê.

Intussen is JP Duminy as die voltydse kolfwerk-breier in die korter weergawes van die spel aangestel, terwyl Rory Kleinveldt die boulers vir die Windies-reeks sal touwys maak.

Hoewel Ryan Rickelton, Gerald Coetzee en Tony de Zorzi deel van die opset is, is daar gʼn teken van Dewald Brevis of Faf du Plessis nie.

Protea-groep vir T20-reeks: Aiden Markram (kaptein), Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Sisanda Magala, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamsi en Tritstan Stubbs.

Protea-groep vir die eerste twee eendagkrieketwedstryde: Temba Bavuma (kaptein), Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Tony de Zorzi, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Sisanda Magala, Keshav Maharaj, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Ryan Rickelton, Andile Phehlukwayo, Tristan Stubbs, Lizaad Williams en Rassie van der Dussen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Nie almal is Tendulkars nie, gee Brewis nog kans om meer konsekwent te raak. Hy gaan nog ‘n GROOT naam raak, maar gee hom kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.