Aiden kry klop op die skouer

Sunrisers Eastern Cape is die wenners van die eerste SA20-toernooi. Foto: Twitter via Sunrisers Eastern Cape.

Aiden Markram beskik ongetwyfeld oor emmersvol talent. Hy is sterk, vaardig op die voorvoet en behendig op die agtervoet, terwyl sy veldwerk ook nie te versmaai is nie.

As die eerste Protea-kaptein (weliswaar as ʼn o. 19-speler) om ʼn Wêreldbeker-trofee omhoog te hou, het baie krieketliefhebbers groot dinge van dié Pretorianer verwag; dr. Ali Bacher het hom onder meer as ʼn toekomstige toetskrieketkaptein uitgesonder.

Nou het Markram se natuurlike talent en leierskapvaardighede kragte saamgesnoer om die Sunrisers Eastern Cape na SA20-glorie te lei.

Die Oos-Kapenaars het gister teen alle verwagting in die hoogaangeskrewe Pretoria Capitals met vier paaltjies in die eindstryd op die Wanderers geklop.

En na afloop van die wedstryd het die Protea-kolwer nie net die silwerware in ontvangs geneem nie, maar is hy ook as die speler van die toernooi aangewys.

Vreugde tussen die rysmiere. Aiden Markram het 100 lopies in die halfeindstryd van die SA20-toernooi aangeteken. Foto: Twitter via Sunrisers Eastern Cape.

Hy het 366 lopies teen ʼn gemiddeld van 33 aangeteken, terwyl hy ook 11 paaltjies geneem het. Boonop het kolwers gesukkel om lopies vanaf sy boulwerk aan te teken en hy het slegs 6,91 lopies per boulbeurt afgestaan.

In gister se eindstryd het hy met ʼn boulontleding van 1/17 ná sy vier boulbeurte gespog en hy het vir Colin Ingram met pragaflewering skoongeboul.

Benewens sy goeie besluite as kaptein sluit indivduele hoogtepunte sy honderdtal in die halfeindstryd teen die Joburg Super Kings in, terwyl hy vroeër ook die einste Johannesburgers in die groepfase laat  bontstaan het.

“Ek geniet die kapteinskaprol, maar dit is iets wat ek lanklaas gedoen het. ʼn Goeie span maak dinge egter baie makliker vir jou op die veld,” het Markram gesê.

  • Ander toekenningwenners:

Kolwer van die toernooi: Jos Buttler (Paarl Royals):

Engeland se witbalkrieketkaptein het nie teleurgestel nie en hy het 391 lopies teen ʼn gemiddeld van 39,10 en ʼn treftempo van 132 geslaan. Hy het 49 grenshoue – waaronder 13 sesse – in die toernooi gemoker.

Bouler van die toernooi: Roelof van der Merwe (Sunrisers Eastern Cape):

Van der Merwe se bydraes was gʼn grap nie en sy draaiboulwerk het gereeld wedstryde in die Oos-Kapenaars se guns geswaai.

Hy het uiteindelik 20 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 9,55 laat spat, terwyl hy net ʼn rapsie meer as vyf lopies per boulbeurt afgestaan het.

Opkomende ster: Eathan Bosch (Pretoria Capitals):

Bosch het naas Anrich Nortjé die tweede meeste paaltjies vir die Pretorianers geneem. Hy het 15 kolwers terug na die kleedkamer in sy 12 wedstryde gestuur.

Die oudleerling van Hilton College was op sy beste in die halfeindstryd teen die Paarl Royals op die Wanderers toe hy 22 lopies geslaan het en twee paaltjies geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Sit hom in n Protea hemp teen Internationale bowlers dan is dit n ander storie. Welgedaan op n goeie kompitisie. Sommiges is gemaak vir local krieket.

Casper ·

Snaaks dat hy nie so presteer as hy vir die “choakers” speel nie,maar wie van hulle presteer,nie eers ons agbare kaptein nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.