Aiden se dryfhou is die produktiefste in wêreldkrieket

Aiden Markram. Foto: Facebook.

Dit is ’n bewolkte dag op Lord’s, die tuiste van krieket, en die tuisspan se naatboulers laat die bal die praatwerk doen – drie van hul teenstanders se kolwers is reeds agter die paaltjies uitgevang.

James Anderson, deur talle as die wêreld se voorste swaaibouler beskou, maak gereed om nóg ’n volgeplante wegswaaier te boul.

Maar vir eens speel een van die kolwers se voetwerk lekker saam en hy speel ’n praghou om ’n bietjie van die druk ontslae te raak. Op die hoofpawiljoen klap die MCC-lede waarderend hande.

’n Dryfhou deur die dekveld is een van die mooiste gesigte in krieket en ’n Protea speel tans dié hou die beste.

Volgens Cricinfo se statistieke is daar oor die afgelope ses jaar amper 41 000 lopies met dié hou in toetskrieket geslaan.

Maar onder die huidige spelers is dit snaaks genoeg nie Virat Kohli of Steve Smith wie se dryfhou die produktiefste in wêreldkrieket is nie, dit is eerder Suid-Afrika se Aiden Markram.

Aiden Markram in aksie vir Hampshire. Argrieffoto..

Die 25-jarige openingskolwer het weliswaar nog net in 20 toetse vir Suid-Afrika gespeel, maar talle kenners meen dat hy die volgende Protea-kaptein in rooibalkrieket moet wees.

En as dit van sy dryfhou afgehang het, sou hy ongetwyfeld die leisels by Faf du Plessis oorgeneem het.

Markram het al 338 lopies te danke aan sy dryfhou geslaan, terwyl hy nog nie een keer uitgehaal is as hy die hou uit sy repertoire-kas gehaal het nie.

Daarteenoor het Kohli se dryfhou vir 1 074 lopies gesorg, maar hy is al 14 keer uitgeknikker terwyl hy dit gespeel het.

Du Plessis is die tweede beste dryfhouspeler: Hy het 542 lopies met dié hou aangeteken, terwyl hy net twee keer uitgehaal is.

O ja, Markram het sy lopies teen ’n treftempo van 207,4 aangeteken en Du Plessis syne teen ’n tempo van 118,6.

Vyftien jaar gelede het Cricinfo ’n soortgelyke artikel gepubliseer. Toe was Jacques Kallis se dryfhou die tweede gevaarlikste ter wêreld – naas dié van die Wes-Indiese Brian Lara.

Hy het 671 lopies op dié manier teen ’n gemiddeld van 335, 50 aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.