Amla, Duminy se honderdtalle plaas SA in beheer

Hashim Amla. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

Hashim Amla. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

Hashim Amla het Donderdag op die Wanderers die agste kolwer geword wat ʼn honderdtal in sy 100ste toets aanteken en het Suid-Afrika saam met JP Duminy op die eerste dag in beheer van die derde kriekettoets teen Sri Lanka geplaas.

Die Proteas het teen uitskeityd 338/3 op die telbord gehad teen ʼn boulaanval wat die kolf aanvanklik telkens sonder sukses geklop het en later duidelik moedeloos was.

Amla was onoorwonne op 125 en Duminy het 155 aangeteken in hulle vennootskap van 292 wat in die voorlaaste boulbeurt beëindig is en in 72,2 beurte teen ʼn lopietempo van 4,03 aangeteken is.

Die Suid-Afrikaanse aanvangskolwers, Dean Elgar (27) en Stephen Cook (10), het met ʼn lewendige kolfblad en goeie boulwerk te doen gekry. Die eerste werklike oortuigende hou het eers in die 11de boulbeurt gekom, en toe albei aanvangskolwers met die totaal op 45 uitgehaal is, was dit verdiende beloning vir die goeie boulwerk.

Duminy het sy tweede honderdtal in die laaste ses toetse aangeteken – een was teen Australië. Dit was die eerste keer dat Duminy sedert sy debuut agt jaar gelede in Australië twee keer meer as 50 lopies in ʼn toetsreeks aangeteken het. Hy het 63 lopies in die eerste toets geslaan.

Sy honderdtal Donderdag het in 140 balle met 14 viere gekom, en sy beurt van 115, wat in die voorlaaste beurt tot ʼn einde gekom het, het 19 viere in 220 balle ingesluit.

Amla het, ná tien middelmatige toetsbeurte sonder ʼn vyftigtal, sy honderdtal in 169 balle en met 14 viere aangeteken en sy 100ste toetswedstryd op die heel beste manier gevier. Sy 125 nun is ook in 220 balle aangeteken en het 16 viere ingesluit.

Dit was Duminy, wat die seisoen met ʼn nuwe aanvallende benadering binnegegaan het, wat die telbord aan die begin van die vennootskap aan die rol gehou het met Amla wat aanvanklik sommer baie gesukkel het.

Van hulle eerste 55 lopies saam het Duminy 43 aangeteken. Amla het 41 balle lank aan sy eerste ses geploeter tot ʼn eerste, uitstekende, vier sy beurt op dreef gekry het.

Amla, wat met sy telling op vyf laat val is, sal die beurt onthou vir die swaarkry en die vasbyt toe dit moeilik was en, natuurlik, ook omdat dit in sy 100ste toets was.

Faf du Plessis het verras toe hy besluit het om te kolf nadat hy die loot gewen het, en as die kans van Amla benut is, sou die Proteas met drie paaltjies plat gaan eet het.

Maar hy ís misgevang en dit het ná Amla se voorgesette waaksaamheid vir die Sri Lankane ʼn nagmerriedag geword.

Opgesomde telkaart:
Suid-Afrika (eerste beurt) 338/3 (Kolwers: Stephen Cook 10, Dean Elgar 27, JP Duminy 155, Hashim Amla 125*, Duanne Olivier 0*. Boulers: Lahiru Kumar 2/79, Angelo Mathews 1/25).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.