Amla in Wêreldbekergroep ingesluit

Protea-ondersteuners sal hoop Hashim Amla sal in Engeland soos die speler van ouds speel. Foto: Cricinfo.

Hy mag die afgelope jaar dalk swak met die kolf gevaar het, maar Hashim Amla het die steun van die Protea-breier en -keurders gekry toe hy vroeër vanmiddag die Protea-groep vir die komende Wêreldbeker in Engeland gehaal het.

Daar is net 42 dae oor vóór die Proteas hul eerste aflewering in die openingswedstryd teen Engeland op die Oval afstuur.

Amla se insluiting beteken dat Reeza Hendricks – sewe jaar jonger as Amla – sy plek in die span kwyt is.

Die 29-jarige Hendricks handhaaf ’n kolfgemiddeld van 26.76 oor sy loopbaan van 18 wedstryde, terwyl die ervare Amla ’n kolfgemiddeld van amper 50 lopies per beurt geniet.

Maar Amla se spelpeil is die afgelope ruk nie op peil nie. Sy afgelope 10 kolfbeurte (wat toetse en eersterangse krieket insluit) is soos volg: 4, 32, 7, 2, 16, 10, 0, 32, 3, 16.

Was dit nie vir sy goeie spelnaam nie, sou sy 122 lopies teen ’n gemiddeld van 12.2 lopies per beurt waarskynlik nie die nasionale keurders té opgewonde gemaak het nie.

Spelpeil is egter tydelik en klas is permanent. Tog haal Vader Tyd selfs die beste spelers in en SA ondersteuners sal hoop dat Amla die speler van ouds in Engeland sal wees.

Aiden Markram speel tans graafskapkrieket in Engeland. Foto: Cricinfo.

Dan het Aiden Markram die span gehaal. Die jong Titans-kolwer se eendagspelpeil was witwarm vir die Pretorianers in plaaslike krieket, terwyl hy ook tans waardevolle ondervinding saam met Hampshire in Engeland kry.

Daar is plek vir Anrich Nortje, Rassie van der Dussen en Dwaine Pretorius in die span, terwyl Chris Morris weggelaat is.

Die 31-jarige Morris is tans een van die sterspelers in die Indiese Premierliga.

Faf du Plessis en sy span sal poog om te doen wat geen ander SA elftal voor hulle kon vermag nie. En dit is om die eindstryd te haal.

Soos wat hy in die promosieveldtog gesê het tydens vandag se bekendmaking: Dit is die Proteas se tyd in die son.

Hoe hulle op die potensiële onweersdae (teen Australië, Indië en Nieu-Seeland) vertoon, sal egter baie meer insiggewend wees.

  • Proteas: Faf du Plessis (kaptein), JP Duminy, David Miller, Dale Steyn, Andile Phehlukwayo, Imran Tahir, Kagiso Rabada, Dwaine Pretorius, Quinton de Kock, Anrich Nortje, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Hashim Amla, Tabraiz Shamsi.

 

  • Die Proteas se bepalings:

 

30 Mei teen Engeland

2 Junie teen Bangladesj

5 Junie teen Indië

10 Junie teen Wes-Indië

15 Junie teen Afghanistan

19 Junie teen Nieu-Seeland

23 Junie teen Pakistan

28 Junie teen Sri Lanka

6 Julie teen Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nico ·

Wel KSA ons verdien om weer sonder die beker huistoe te kom net omdat ‘n speler op sy vorm van jare terug gekies word. Sy pa is siek maar nou is hy skielik reg vir wêreldbeker. Ek dink dit was meer ‘n geval van sy vorm nie verder wou opmors nie. So hoera elke wedstryd wat ons met hom verloor.

Judge Dredd ·

……en ons herhaal die fout van die laaste wereldbeker.

Gertjie ·

Kom ons wag en oordeel na die toernooi . Dan kan daa geoordeel word watter spelers nie daar moes wees . Groete en geniet Paas naweel . Pasop om hotcross buns te eet

Boesman ·

Wat kan mens sê! Waarom oupa Amla bo Reeza gekies word sal net die rigkop keurders verstaan. Daar kan seker nie veel verder fout met die span wees nie. Ons hoop regtig nie die span gaan net op een of twee ouens se goeie spelpeil staatmaak nie. Elke speler moet sy 110% + gee.

Judge Dredd ·

Na die toernooi – dan is dit te laat.
Feit – dis nooit ‘n goeie idee om spelers te kies wat nie in vorm is.

kriekie ·

Ek bly maar AB DE VILLIERS MAL
DAAI MAN IS VAN TOP GEHALTE ons baaaaie trots gemaak

Naas ·

Mis ek iets? Het KSA dan nie aangekondig dat daar geen kwotas vir hierdie wêreldbeker toernooi gaan wees nie? Amla, Shamsi en Duminy?

Scruffie ·

Ek kan nie krieket speel nie Wat gaan Amla daar doen hou net n beter speeler uit die span Maar nou ja ons weet hoekom hy daar is. Amla was uitsteekend maar hy besef nie sy rak lewe is verby nie Baie sterkte vir die span maar die beker gaan nie SA sien nie

bolla ·

Ons is nie een van die gunstelinge hierdie keer nie. Hopelik doen hulle beter as mens minder van hulle verwag maar ‘n choke is nooit ver vir hierdie span nie…..

Snuffels ·

Ek kry die gevoel Dat Amla een van ons staatmakers gaan wees… Hy gaan moet as ons wedstryde wil wen. Hy het sy plek oor die jare verdien, en swak vorm is tydelik. Ek sal my woorde eet as ek verkeerd is maar dink ek gaan honger wees

Johan ·

Persoonlik sou ek nie Amla of Duminy gekies het nie beide was al 2 keer daar en het saam ge”choke” sou liewers die jongmanne n kans gegee het jammer vir Riza dat hy by huis moet bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.