Amla kolf die Proteas uit vroeë moeilikheid uit

Hashim Amla – sy vyftigtal was nodig vir die Proteas (Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft)

Suid-Afrika kan, nadat hy aanvanklik die knyp was, redelik tevrede voel na die reën-onderbreekte eerste dag van die derde kriektoets teen Nieu-Seeland in Hamilton.

Nadat die Proteas albei hulle aanvangskolwers vir net vyf lopies verloor het, het hulle op 123/4 gestaan toe spel weens reën en die nat buiteveld afgelas is.

Net 42 beurte is op die eerste dag geboul in ʼn wedstryd wat Nieu-Seeland moet wen om die reeks te deel. Met reën wat op die vier oorblywende dae verwag word, lyk dit nie of daar sommer ʼn uitslag bereik sal word nie.

Theunis de Bruyn, eintlik ʼn middelkolwer, het sy toetsdebuut as aanvangskolwer in die plek van die sukkelende Stephen Cook gemaak en is met sy derde bal in die glippe gevang sonder dat hy ʼn lopie aangeteken het.

Dean Elgar het, na sy honderdtal en 89 in die eerste toets, die derde opeenvolgende keer misluk met sy laaste drie tellings 9, 17 en 5.

Hy is uit toe hy ʼn bal van Colin de Grandhomme buite sy wegpen gelos en die bal van die blad af ingesny en die bopunt van sy wegpen getref het.

♦  ʼn Bietjie meer oor die kolfblad en die kolfomstandighede. Daar is letterlik stroke met  gras, sowat 15cm breed en sowat 11 mm lank, van paaltjie na paaltjie gelos, met tussenin kaalgeskeerde stukke sonder enige gras.

Land die bal op die gras, kon dit lelik opklim na ʼn ongemaklike hoogte vir die kolwers. Daar was egter nie veel beweging van die blad af nie, maar die humiditeit, wat glo 100% was en die bewolkte toestande het heelwat swaai bewerkstellig.

Selfs sonder hulle twee voorste boulers, Trent Boult en Tim Southee, was die boulwerk bestendig en is die hulp wat daar was goed deur De Grandhomme, Matt Henry en Neil Wagner gebruik.

♦  JP Duminy, wat vroeër die seisoen amper weggelaat is maar hom toe reggeruk het, was besig om na die verlies van die aanvangskolwers saam met Hashim Amla goeie werk te doen om sy span uit die moeilikheid te grawe.

Daar was ʼn nuwe geduld en toewyding van sy kant af. Maar met sy telling op 20 het Duminy weer, vir die soveelste keer in sy loopbaan, in die haakhou-slaggat getrap en is hy op die grens uitgevang. Die telling was toe 64/3 en die Proteas glad nie veilig nie.

Kort daarna is die spelers net duskant etenstyd van die veld. Dit sou nog twee keer gebeur.

Amla (50) het na sy gesukkel die afgelope maande weer gelyk na die speler van ouds. Hy het mooi agter die bal ingekom en, soos die meeste goeie kolwers, die bal baie laat gespeel. Sy tydsberekening was goed, en hy het nege pragtige viere geslaan voordat Colin de Grandhomme hom skoongeboul het.

Saam met Duminy het hy eers die ergste skade van die Proteas in ʼn vennootskap van 49 besweer, en toe saam met Faf du Plessis 33 aangeteken. Steeds was die 97/4 nie ʼn wafferse telling nie, maar Du Plessis (33 nun) en Temba Bavuma (13 nun) het toe, met die benodigde toewyding teen die bestendige boulwerk, die telling tot 123/4 geneem.

Klik op die skakel vir volledige telling en statistieke: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020045.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.