Amper 30 000 toeskouers by BBL-eindstryd toegelaat

Foto: Twitter.

Kort nadat die Australiese Krieketraad aangedui het dat hy weens Covid-19-vrese nie na Suid-Afrika kan toer nie, het die plaaslike regering van Nieu-Suid-Wallis aangekondig dat tot 28 500 toeskouers die eindstryd van die Big Bash League in Sydney mag bywoon.

Kaartjies vir die wedstryd is binne ’n japtrap uitverkoop.

Die Sydney Sixers sal teen die wenner van vandag se uitspeelwedstryd tussen die Brisbane Heat en die Perth Scorchers speel.

Volgens Stuart Ayres, die plaaslike minister van toerisme, is dit wonderlike nuus vir NSW-inwoners.

“Ons het goed saam met NSW Health en Krieket Australië gewerk om hierdie groot sportgebeurtenis na die Sydney Cricket Ground te bring. Ons kan nie wag om die Sixers en hul ondersteuners op hul tuisveld te sien nie,” het Ayres gesê.

Intussen het Kevin Pietersen die Aussies se besluit bevraagteken om nie na Suid-Afrika te toer nie.

“Daar is nie ’n manier dat Australië vir ’n toer na Indië sou onttrek nie. Dit is regtig ’n donker tyd vir wêreldkrieket,” het Pietersen op Twitter geskryf.

Nick Hockley, Krieket Australië se tydelike uitvoerende hoof, het vroeër die week bevestig dat die Aussies besluit het om kop uit te trek en dat die onlangse tweede vlaag van Covid-19-gevalle in Suid-Afrika die raad se besluit beïnvloed het.

“Dit is duidelik dat ’n reis van Australië na Suid-Afrika tans ongetwyfeld gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir ons spelers, ondersteuningspersoneel en gemeenskap inhou,” het Hockley gesê.

Op sy beurt was Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, teleurgesteld in die Aussies se besluit.

“Dit sou ons langste toer nóg in ’n bio-veilige omgewing gewees het en die Australiërs sou later vandeesmaand in Suid-Afrika aangekom het. Om dus op die laaste nippertjie van hul besluit in kennis gestel te word, is ongelooflik frustrerend,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

tweeling ·

Dit gaan alles oor geld: “Money makes the world go round”

Therese ·

Graeme Smith kan met reg ontstoke wees na al die moeite en uitgawes.
Die twee Engelse, KP en Michael Vaughan, se uitgesproke kritiek oor die Aussies se onttrekking is interessant in die lig van Engeland se kortgeknipte SA toer kort gelede.
Kan hulself maar net nie keer nie.

koos10 ·

Hulle is nog seker suur oordat hulle skelmstreke hier op kamera vas gevang was, en aan die hele wêreld vertoon is!

Die Wolf ·

Help nie ons braak gal nie. Ons onbevoegdheid is besig om ons in die hakskeen te byt.

Kirst ·

As ek kyk hoe dit in Pakistan gaan kan ons dankbaar wees dat ons waarskynlik ‘n groot verleentheid gespaar word. As ons al die spelers wat vir Engeland en die Aussies speel kon behou sou dit ‘n ander prentjie gewees het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.