Anrich die streepbal-meester

Anrich Nortjé het oudergewoonte die spoedkrane oopgedraai. (Foto: Twitter via Pretoria Capitals.)

Hoe probeer jy om vyf lopies van die laaste boulbeurt van ʼn T20-wedstryd te verdedig? Jy gooi die bal vir Anrich Nortjé.

Die Suid-Afrikaanse blits het so amper ʼn haas uit die hoed vir die Delhi Capitals teen die Mumbai Indians gelewer toe hy met ʼn streepbal-meesterles vorendag gekom het.

Nortjé het vyf toonkraak-aflewerings op ʼn streep afgestuur, maar Tim David het die wenlopies van die finale bal van die wedstryd geslaan toe Nortjé eerder op ʼn lengte-aflewering besluit het.

O ja, net so tussen ons: Daardie streepbal-aflewerings was elkeen deksels vinnig en die kolwers moes hul storie ken om lopies aan te teken.

Harsha Bhogle, die bekende Indiese kommentator, was vol lof vir Nortjé se boulwerk.

“Streepbal ná streepbal. Dit was pleinweg fantasties,” het hy getwiet.

Die Suid-Afrikaner het al vantevore amok in die Indiese Premierliga gemaak. In 2020 het hy Jos Buttler met ʼn aflewering van 156,22 km/h gebombardeer.

Dan was hy ook die Proteas se beste speler op hul rampspoedige toer na Australië. Hoewel hy nie sakke vol paaltjies geneem het nie, het sy veggees en leeuemoed die Aussies beïndruk.

David Warner het selfs gesê dat een van Nortjé se salvo’s die vinnigste boulwerk was wat hy nóg in sy toetsloopbaan trotseer het.

  • Opsomming van telkaart:

Delhi Capitals 172/10 in 19,4 boulbeurte: Axar Patel 54, David Warner 51 en Piyush Chawla 3/22.

Mumbai Indians 173/4 in 20 boulbeurte: Rohit Sharma 65, Tilak Varma 41 en Mukesh Kumar 2/30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.