Anrich draai spoedkrane oop in IPL

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

Anrich Nortjé het gisteraand in die kleure van die Delhi Capitals gewys dat daar geen plaasvervanger vir spoed is nie – selfs nie eens op kolfblaaie van die Verenigde Arabiese Emirate nie.

Die Protea-blits het die spoednaald gereeld in die rooi gedruk en die stomme Sunrisers Hyderabad-kolwers moes reeds vanaf die eerste bal bontstaan.

Sy eerste aflewering van die wedstryd is teen 148,2 km/h gemeet en hy het uiteindelik vyf keer vinniger as 150 km/h geboul.

Nortjé se aggressie en vaart was een te veel vir David Warner en die Australiese openingskolwer is vroeg uitgehaal. Glad nie ’n slegte voorbode vir die Proteas se openingswedstryd teen die Aussies in die T20-Wêreldbeker nie.

Die Suid-Afrikaner het uiteindelik met boulsyfers van 2/12 in sy vier boulbeurte gespog en saam met Kagiso Rabada (3/37) het hulle die Sunrisers tot 134/9 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk.

Sosialemediagebruikers was gaande oor Nortjé se blitsvertoning en een het selfs getwiet dat hy selfs meer bestendig as Shoaib Akhtar is.

Dit is nie die eerste keer wat Nortjé krieketliefhebbers opgewonde in ’n IPL-wedstryd laat naderskuif nie.

Die 27-jarige snelbouler het verlede jaar die vinnigste aflewering in die toernooi se geskiedenis afgestuur – ’n blitsige aflewering van 156,22 km/h teen die Rajasthan Royals.

Kort ná daardie wedstryd het Nortjé gesê dat Akhtar se spoedrekord van 161,3 km/h vierkantig in sy visier is.

“Dit is iets wat hopelik binne my bereik is en iets wat ek graag sal wil doen. Dalk, wanneer alles lekker saamspeel, is dit ’n prestasie wat ek in die toekoms kan vermag,” het die Suid-Afrikaner destyds op Ravichandran Ashwin se YouTube-kanaal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Maar as hy vir Proteas speel slaan Hulle hom uit die stadium.
Nooit bestendig in kits krieket nie
Hou maar dop as wereldbeker volgende maand begin, die ou boul hom nou self moeg, Dan hoor jy weer Hulle speel te veel krieket

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.