Anrich druk die spoednaald in die rooi

Anrich Nortjé het die spoedkrane teen Engeland op Lord’s oopgedraai. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Kagiso Rabada is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy met sewe paaltjies teen Engeland op Lord’s gespog het.

Maar as Rabada die Suid-Afrikaners se paaltjievraat in die eerste toets was, dan moet Anrich Nortjé ongetwyfeld die spoedvraat wees.

Die 28-jarige Nortjé het die belangrike paaltjies van Ben Stokes, Jonny Bairstow (twee keer), Ben Foakes (twee keer) en Alex Lees in die wedstryd geneem en hy het omtrent die spoednaald in die rooi gedruk.

Die blitsige bal van 150 km/h waarmee hy vir Bairstow in die Engelsmanne se eerste kolfbeurt skoongeboul het, is amptelik die vinnigste aflewering wat vanjaar ’n paaltjie in toetskrieket laat spat het.

In die 25ste boulbeurt van Engeland se tweede kolfpoging het hy ’n gemiddelde snelheid van 149 km/h gehandhaaf. Dit is die vinnigste boulbeurt wat die Engelse in die afgelope tien jaar op hul tuisveld moes trotseer.

Soos wat Suid-Afrikaanse rugbykommentators gereeld sê: Daar is geen plaasvervanger vir spoed nie.

Anrich Nortje (L) en Dean Elgar (10 Junie 2021) (Foto: Randy Brooks/AFP)

Volgens Nortjé is hy dankbaar vir die leierskaprol wat Dean Elgar in die span vertolk. Die Proteas se toetskrieketkaptein is bekend vir sy veggees en doodeerlike houding op die veld; as hy vir jou sê dat jy jou sokkies moet optrek, kan jy maar luister.

“As Dean dink jy is nie op jou beste nie, sal hy dit vir jou sê en almal sal dit respekteer. ’n Span het so iemand nodig,” het Nortjé gesê.

“Hy moedig my terselfdertyd ook aan om vinnig te boul en vir momentum te sorg. Dit het beslis op Lord’s gewerk en hopelik kan ek met ’n soortgelyke vertoning in die oorblywende toetse vorendag kom.”

Dit is ook nie die eerste keer dat Nortjé kolwers laat bontstaan nie.

Hy het in 2020 se weergawe van die Indiese Premierliga ’n blitsige aflewering van 156,22 km/h teen die Rajasthan Royals afgestuur.

Kort ná daardie wedstryd het Nortjé gesê dat Akhtar se spoedrekord van 161,3 km/h reg in sy visier is.

“Dit is iets wat hopelik binne my bereik is en iets wat ek graag sal wil doen. Dalk, wanneer alles lekker saamspeel, is dit ’n prestasie wat ek in die toekoms kan vermag,” het die Suid-Afrikaner destyds op Ravichandran Ashwin se YouTube-kanaal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Verdienste…. onvervangbaar op enige vlak in die samelewing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.