Anrich Nortjé, die blitsige bittereinder

Anrich Nortjé. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Anrich Nortjé verdien ’n pluimpie.

Die 27-jarige snelbouler het vandag onverpoos die een boulbeurt ná die ander afgestuur. Sommige aflewerings was vinniger as 145 km/h, maar nooit juis stadiger as 135 km/h nie.

In die proses het hy van die gevaarlike Babar Azam (77) – sommer met die tweede aflewering van die dag se spel – ontslae geraak, terwyl hy ander kolwers soos Mohammad Rizwan gereeld op die agtervoet gedwing het.

Daarbenewens het hy met sy vinnigste aflewering van die beurt – ’n kartets van 150,3 km/h – gewys dat ’n stadige kolfblad in Rawalpindi hom nie veel pla nie.

Nortjé (5/56) het vandag saam met Keshav Maharaj (3/84) en ’n briljante stukkie veldwerk deur Temba Bavuma gesorg dat die tuisspan tot 272 beperk word.

Maar waar die boulers krediet verdien vir die wyse waarop hulle geboul het, is die Proteas se onvermoë om Pakistan se stertkantkolwers terug na die kleedkamer te stuur rede tot kommer.

Dié kolwers het vir vennootskappe van 41, 31, 30 en 21 gesorg en met ’n Protea-kolflys wat sukkel om die tuisspan se draaiers te bemeester, is 123 ekstra lopies vir die Proteas soos daardie vlieg wat om hul koppe draai: lastig.

Aiden Markram het egter gesê dat die Protea-kolwers baie geleer het deur Pakistan se kolfwerk te bestudeer, terwyl Rassie van der Dussen erken het dat hy lankal van ’n toetshonderdtal droom.

Dit is tyd om die daad by die woord te voeg. Nortjé het immers reeds die harde werk gedoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Talk is cheap, die kolf koop die lopies.