Anrich Nortjé, Kagiso Rabada en dalk Duanne Olivier?

Anrich Nortjé, Kagiso Rabada en Duanne Olivier sal ’n gedugte Protea-boulaanval wees. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Daar was Michael Holding, Joel Garner en Andy Roberts vir die Wes-Indiese Eilande, terwyl Australië met Glenn McGrath, Jason Gillespie en Brett Lee gespog het.

Meer ter plaatse was Dale Steyn, Vernon Philander en Morné Morkel een van die redes vir die Proteas se toetssukses van so ’n paar jaar gelede.

Nou kan Suid-Afrika met nóg ’n gedugte snelaanval spog; as almal natuurlik gekies mag word, bygesê.

Met Kolpak-kontrakte wat iets van die verlede is, is Duanne Olivier weer terug in Suid-Afrika en oudergewoonte laat hy die paaltjies met reëlmaat spat.

Die 29-jarige snelbouler is tans die voorste paaltjievraat in die plaaslike meerdaagse reeks waar hy reeds 28 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 11,14 in vier wedstryde vir die Lions geneem het.

En boonop is hy bereid om kolwers weer op die internasionale verhoog vir Suid-Afrika te laat bontstaan.

Duanne Olivier lewer die een skitterprestasie na die ander vir die Lions. Foto: Twitter.

“Ek is oopkop vir enigiets, maar ek probeer om op die hede te konsentreer en nie te veel aan die toekoms te dink nie,” het Olivier in ’n onderhoud met Cricinfo gesê.

Volgens die Groblersdal-boorling het Victor Mpitsang (die Proteas se keurderbaas) met hom in verbinding getree oor die moontlikheid om weer vir Suid-Afrika te speel.

“Ek is natuurlik beskikbaar, maar die finale besluit lê by die keurders.”

Die vurige Olivier het krieketondersteuners laat regop sit toe hy 24 paaltjies in drie toetse teen ’n besoekende Pakistan-elftal geneem het.

Hy het egter kort ná sy heldedade ’n Kolpak-kontrak met Yorkshire in Engeland onderteken.

“My besluit mag dalk moeilik wees vir sommiges om te verstaan, maar om ’n professionele sportman te wees, is ’n korttermynloopbaan en om my geleenthede die beste te benut, moes ek alle opsies oorweeg het,” het Olivier op Instagram gesê.

“Dit is die moeilikste besluit van my lewe en ek verwag nie dat KSA daarmee sal saamstem óf dit sal verstaan nie.”

Hy sê egter dat sy tyd in Engeland van hom ’n meer uitgeslape bouler gemaak het – die dae van ’n rits agtereenvolgende opslagballe is iets van die verlede en hy probeer deesdae om die bal voller te plant.

“Maar vir eers geniet ek dit om terug te wees en weer krieket in Suid-Afrika te speel.”

  • Simon Harmer, nóg ’n speler wat ’n Kolpak-kontrak onderteken het, is die naasbeste bouler in die reeks.

Hy het reeds 20 paaltjies in vier wedstryde vir die Titans teen ’n gemiddeld van 25,30 geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willi ·

Bly waar julle is, daar is vir julle geen toekoms in SA krieket nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.