Archer span weer die rassisme-boog

Jofra Archer. Foto: Twitter.

Die snelbouler Jofra Archer kla oor rassistiese boodskappe op sosiale media nadat hy in isolasie geplaas is omdat hy Engeland se Covid-19-regulasies verbreek het.

Die 25-jarige Archer is in die sop nadat hy, te midde van die streng reëls en regulasies wat vir die toetsreeks tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande geld, sy huis in Hove besoek het.

Hy het die tweede toets op Old Trafford misgeloop en het hom ’n boete en ’n skriftelike waarskuwing op die hals gehaal.

’n Ontstoke Ashleigh Giles, Engeland se direkteur van krieket, het gesê dat Archer se blaps in ’n ramp kon ontaard het en dat indien sy aksies sou moes uitkring, hy Engelse krieket baie geld uit die sak kon jaag.

Hy is nietemin vir ’n paar dae in selfisolasie geplaas en het in die tydperk twee keer negatief vir Covid-19 getoets. Hy sal dus beskikbaar vir die laaste toets wees.

Maar Archer sê nou dat hy gedurende sy tydperk in isolasie onder rassistiese kommentaar op sosiale media deurgeloop het.

“Van die beledigings wat ek die afgelope paar dae op Instagram moes verduur, was rassisties van aard ek het besluit dat ek genoeg gehad het,” het hy in die Britse media gesê.

“Sedert Wilfried Zaha, die sokkerspeler van Crystal Palace, onder ’n 12-jarige se rassistiese kommentaar deurgeloop het, het ek die streep getrek. Ek het my klagtes aan die ECB (Engelse krieketraad) aangestuur en die korrekte prosedures sal gevolg word.”

Archer het tydens verlede jaar se toer na Nieu-Seeland ook gesê dat hy rassistiese opmerkings op die Bay Oval verduur het.

“Dit was nogal ’n bietjie onstellend om vandag rassistiese beledigings te hoor terwyl ek gekolf het in ’n poging om die toets vir my span te red. Die toeskouers was die hele week ongelooflik, behalwe vir daardie één persoon,” het hy destyds op Twitter geskryf.

Hy was tydens die onlangse Reeks om die As ook die teiken van rassistiese kommentaar. Twee Australiërs is tydens die toetswedstryd op Old Trafford gevra om die stadion te verlaat nadat hulle onder meer vir hom gevra het om sy paspoort te wys.

Archer is in Barbados gebore en het later gekwalifiseer om vir Engeland te speel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MakersMark ·

Laat hy BLM by aansluit. Dis almal se skuld behalwe syne dat hy nie sy ore oopgemaak het en by die reels gehou het nie. Nou is hy die slagoffer. Plaas laat hy geskors word vir 12 maande, wat as hy sy spanmaats siek maak ?

Andrew ·

Stuur ons daai boodskappe. Deesdae is dit rassisties vir n witrte om te vra of iemand n toeris is

Thelsa ·

As die geldige argumente opraak dan is die ‘race card’ die gesogte troefkaart. Hy is skuldig bevind dat hy die span se protokol oortree het. Wat jou straf soos ‘n MAN of vat hy sy straf soos ‘n Engelsman?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.