Arthur se nuwe avontuur

Mickey Arthur. Foto: Cricinfo.

Mickey Arthur, wat al Suid-Afrika, Australië en Pakistan se nasionale krieketspanne afgerig het, is pas as die hoofafrigter van Sri Lanka aangewys.

Die eilandmanne is juis binnekort in ’n toetsreeks teen die einste Pakistan gewikkel.

Volgens mediaberigte sal Zimbabwe se Grant Flower, Andy Flower se broer, as die span se kolfafrigter aangestel word, terwyl David Saker en Shane McDermott onderskeidelik na die boul- en veldwerk sal omsien.

Sri Lanka se krieketbeheerraad het tot kontrakte van twee jaar vir die nuwe afrigters ingestem, maar Flower sal net by die eendagspan betrokke wees en nie saam na Pakistan vir die toetsreeks reis nie.

Arthur is een van die mees ervare internasionale afrigters op die wêreldverhoog en het in sy tyd by die Proteas gesorg dat die Suid-Afrikaners die voorste toetsspan word. Graeme Smith se span het destyds onder andere met Engeland en Australië weg van die huis afgereken.

Dinge was meer troebel saam met die Aussies en Arthur was veral in die spervuur omdat hy verwag het dat hardebaarde soos Michael Clarke en Shane Watson “huiswerk” moes inhandig ná ’n swak vertoning teen Indië.

Saam met Pakistan het hy die Kampioenbeker gewen en toegesien dat Sarfaraz Ahmed se span tien agtereenvolgende T20-reekse gewen het.

Hy is egter in die pad gesteek nadat Pakistan nie na wense by die Wêreldbeker-kriekettoernooi vertoon het nie.

  • Flower het vantevore saam met Arthur gewerk as Pakistan se kolfwerk-konsultant, terwyl Saker al onder andere Engeland en Australië se boulafrigter was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.