As-kuus? Tot 80 000 toeskouers per dag by MCG-toets

Ben Stokes het al met ’n paar uithalervertonings vorendag gekom. Foto: Anthony Devlin/AFP.

Volgens die jongste verwikkelinge kan tot 80 000 toeskouers toegelaat word om die toets tussen Australië en Engeland op die Melbourne Cricket Ground (MCG) uit die pawiljoen te volg.

Australië is alombekend vir sy streng regulasies om Covid-19 te probeer beheer en Melbourne se sesde grendeltydperk-periode het onlangs tot ’n einde gekom.

Volgens berigte sal 90% van alle Victoria-inwoners (ouer as 12 jaar) ten volle ingeënt moet wees voordat die MCG sy hekke vir al die toeskouers kan open.

“Ek wil 80 000 toeskouers op die eerste dag van die MCG-toets in die stadion sien. Dit sal nie ’n maklike taak wees nie, maar die kaartjies behoort soos soetkoek te verkoop,” het Daniel Andrews, Victoria se premier, gesê.

Intussen is die 30-jarige Ben Stokes deel van Engeland se toergroep nadat aanvanklik gevrees is dat ’n vingerbesering hom op die kantlyn sal hou.

Die veelsydige speler het juis Engeland se afgelope toetsreeks teen Indië misgeloop nadat hy sy vinger in die kleure van die Rajasthan Royals gebreek het. Hy is ook nie saam met hulle in die Verenigde Arabiese Emirate vir hul T20-Wêreldbekerveldtog nie.

“Ek sien daarna uit om weer saam met my spanmaats op die veld te wees; ek is gereed vir Australië,” het Stokes gesê.

Hy was juis Engeland se voorste lopiemaker in die vorige reeks tussen die spanne. Hy het in 2019 amper 450 lopies teen ’n gemiddeld van 55,12 geslaan, terwyl sy spoghonderdtal op Headingley die wedstryd vir Joe Root se span beklink het.

  • Bepalings vir die Reeks om die As:

Eerste toets: 8-12 Desember in Brisbane

Tweede toets: 16-20 Desember in Adelaide

Derde toets 26-30 Desember in Melbourne

Vierde toets: 5-9 Januarie in Sydney

Vyfde toets: 14-18 Januarie in Perth.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.