As-reeks: tien paaltjies voor teetyd en ʼn ware toetsstryd

Tien paaltjies teen teetyd. Engeland, wat voor etenstyd gestruikel het, en toe Australië wat in ʼn diep kolfmoeras was maar herstel het, het Vrydag in Brisbane vir toetskrieket soos min op die tweede dag van die eerste As-toets gesorg.

Teen uitskeityd op die verlengde dag – daar is ʼn halfuur vroeg begin nadat reën die eerste dag verkort het – was sake naastenby gelyk.

Engeland het Vrydag van 196/4 na 80.3 boulbeurte, in die laaste boulbeurt voor etenstyd na 302 almal uit in 116.4 beurte getuimel. Hulle het dus Vrydag ses paaltjies in 36.1 beurte vir 106 lopies verloor.

Australië het van 76/4 na 165/4 herstel, maar is steeds 137 lopies agter Engeland met ses paaltjies staande.

Australië het net so gesukkel op ʼn kolfblad wat nie veel bitsigheid bevat het nie. Hulle was, nadat die nuweling Cameron Bancroft vir vyf met die telling op slegs sewe uitgehaal is, diep in die knyp.

Dit het erger geword toe nog drie paaltjies, onder meer dié van David Warner, teen 76 geval het – ʼn agterstand van 226 lopies.

Soos Dawid Malan met sy geduldige 56 lopies (130 balle, 11 viere) in Engeland se beurt toe hulle drie paaltjies binne 37 lopies verloor het en hy goed deur Moeen Ali met 38 lopies ondersteun is, het die Aussies se kaptein Steve Smith (64 lopies, 148 balle, ses viere) en Shaun Marsh (44 nun, 122 balle, sewe viere) die telling eers stadig en geduldig gebou en dit toe hoe later hoe kwater na 165/4 geneem.

Die Engelse boulaanval lyk, soos verwag is, maar bra middelmatig en behoort in die reeks uitgebuit te word – mits die Aussies kophou.

Die geskiedenis van die kolfblad, die baanopsigter se gepraat en die media wat dit verder opgeblaas het, het ʼn soveelste monster-kolfblad op die Gabba beloof.

Die realiteit is dat dit eintlik ʼn relatiewe mak blad is as jy jou kop afhou, hoewel die magdom paaltjies Vrydag dit anders laat lyk het.

Vir die volledige telkaart en inligting, klik op die skakel http://www.espncricinfo.com/series/10883/scorecard/1072305/Australia-vs-England-1st-Test-eng-tour-of-aus-and-nz-2017-18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.