Ashwin nou net soveel reekstoekennings as Kallis

Jacques Kallis. Foto: Anesh Debiky/AFP.

Ravichandran Ashwin het sopas sy negende speler van die reeks-toekenning ontvang nadat hy Nieu-Seeland in die pasvoltooide toetsreeks dronkgedraai het.

Hy het nou saam met Jacques Kallis die naasmeeste reekstoekennings ooit in die geskiedenis van toetskrieket ontvang.

Ashwin se prestasies op die draaiersvriendelike kolfblaaie van Indië het ’n mens net weer aan Kallis se merkwaardige loopbaan laat dink.

Toe hy sy Slazenger-krieketkolf vir oulaas op die internasionale verhoog weggepak het, het hy meer as 10 000 lopies in toets- én eendagwedstryde vir die Proteas geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys: ’n wêreldrekord.

Kallis vier nog een van sy honderdtalle. Foto: Twitter.

Hy is onlangs deur die Internasionale Krieketraad vereer toe hy in die internasionale krieketbeheerliggaam se heldesaal opgeneem is. ’n Gepaste beloning vir waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler tot op hede.

Hoewel Kallis al kritiek oor sy kolfwerk moes verduur het – hy het óf te stadig gekolf, óf hy het sy eie belange bo dié van die span gestel – was hy nooit ’n selfsugtige speler nie.

Sy bestendigheid en vermoë om ’n ankerrol te speel het gesorg dat spelers soos Herschelle Gibbs, Hashim Amla of AB de Villiers met groter vryheid kon kolf.

Wanneer hy nie die span uit die een of ander netelige posisie moes red nie, het hy met die flair en vryheid van ’n koninklike gekolf.

En al word ’n krieketprofeet dikwels nie in sy eie land deur administrateurs geëer nie, het Jacques Henry Kallis ongetwyfeld met ’n hele paar meesterlike vertonings vorendag gekom.

Hier is van sy merkwaardige prestasies in die toetsarena:

  • Meeste speler van die wedstryd-toekennings: 23
  • Naasmeeste speler van die reeks-toekennings: 9
  • Derde meeste toetslopies in sy loopbaan: 13 289
  • Naasmeeste tellings van 50 en meer in toetse: 103
  • Die naasvinnigste om 13 000 toetslopies te slaan – dit het hom 269 kolfbeurte geneem.
  • Sy 200 vangskote is die derde meeste in toetskrieketgeskiedenis deur ’n gewone veldwerker.
  • Hy is ook een van die min spelers wat ’n honderdtal geslaan het en vyf paaltjies in dieselfde wedstryd geneem het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Die statistiek lê die hele internet vol, vergelyk bietjie hoeveel tuiswedstryde (lees draaier-vriendelike blaaie) het Ashwin gespeel teenoor die weg-wedstryde… Die weg-wedstryde se statistiek lyk minder rooskleurig.

Frank ·

En dit geld vir die magtige Tendulkar ook…. tuisveld voordeel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.