Aussie-boulers sing klaagliedere in Pakistan

Australië se Nathan Lyon. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Die eerste toets tussen Australië en Pakistan in Rawalpindi mag dalk onbeslis geëindig het, maar die tuisspan se kolwers het nou ongetwyfeld ’n sielkundige houvas op die besoekers se boulaanval.

Want in 239 boulbeurte kon die Aussies net vier paaltjies neem terwyl Pakistan ’n verstommende 728 lopies gemoker het.

Azhar Ali (185) en Imam-ul-Haq het gesorg dat die tuisspan hul eerste beurt op 476/4 kon verklaar, terwyl hulle op 252/0 in hul tweede beurt gestaan het toe spel is gestaak is.

Daar was nie veel van Australië se As-helde te sien nie.

Scott Boland het nie gespeel nie, Mitchell Starc was futloos en Nathan Lyon was planloos – die draaier se wedstrydontleding sorg vir eina-leesstof: 1/236 ná 78 vervelige boulbeurte.

Toegegee, die kolfblad was so mak soos ’n slapende goudvissie, maar ’n mens verwag darem ’n bietjie meer van ’n span wat onlangs die Engelse kolwers laat bontstaan het.

Hul kolwers het weliswaar nie te sleg gevaar nie – vier spelers (Usman Khawaja, David Warner, Marnus Labuschagne en Steve Smith) het vyftigtalle aangeteken en hulle is vir 459 uitgeboul.

Maar hulle het hul laaste vier paaltjies vir slegs 15 lopies verloor; ’n aanduiding dat dit wel moontlik was om kolwers kort na mekaar terug na die kleedkamer te stuur.

Die tweede toets begin Saterdag in Karatsji en Andrew MacDonald (Australië se tydelike afrigter) sal duimvashou dat sy boulers dan weer met die woema van ouds speel.

Pat Cummins het nadat Justin Langer die trekpas afrigter gekry het gesê dat die span by ’n “meer samewerkende spanomgewing” sal baat.

Dalk verlang die Australiese kaptein nou na Langer se streng afrigterstyl – hy weet immers hoe om ’n span reg te ruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.