Aussie-kaptein in trane oor balpeutery

Steve Smith, voormalige krieketkaptein van Australië, in trane tydens ʼn mediakonferensie in Sydney. Agter hom staan sy pa, Peter. Foto: AP Photo/Steve Christo

Steve Smith, die Australiese krieketkaptein, het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in Australië in trane uitgebars toe hy om verskoning gevra het vir sy rol in die balpeutery-skandaal wat tans rondom dié land se krieketspan woed.

In ʼn mediakonferensie wat gehou is kort nadat Smith van Suid-Afrika na Australië teruggekeer het, was Smith baie emosioneel terwyl hy om verskoning gevra het: “Ek wil dit duidelik maak dat ek as kaptein van die Australiese krieketspan volle verantwoordelikheid neem. Ek het ʼn ernstige oordeelsfout begaan. Dit was ʼn gebrek aan leierskap, my leierskap. Ek sal alles moontlik doen om op te maak vir my fout en die skade wat dit veroorsaak het.”

Smith is saam met David Warner vir 12 maande uit die spel geskors, terwyl Cameron Bancroft vir nege maande geskors is. Dit kom nadat TV-kameras Bancroft Saterdag tydens die derde toets teen Suid-Afrika in Kaapstad uitgewys het waar hy klaarblyklik ʼn geel voorwerp gebruik om met die bal te peuter.

Bancroft het aanvanklik volgehou hy het geel kleefband gebruik om die bal grof te maak, maar Krieket Australië het later gesê dit was skuurpapier wat gebruik is.

Steve Smith, voormalige krieketkaptein van Australië, word deur polisiebeamptes vergesel na die vertreksaal van die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg van waar hy sal terugvlieg na Australië (28 Maart 2018). Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Bancroft het Donderdag om verskoning gevra dat hy gelieg het toe hy aanvanklik uitgevang is. “Ja, ek het gelieg oor die skuurpapier en het paniekerig geraak in daardie situasie. Ek is baie jammer,” het Bancroft gesê.

“Ek wil regtig sê dat ek bitter jammer is. Ek is lief vir krieket en om vir my land te speel, en daar is vir my geen groter trots nie. Ek is baie teleurgesteld en spyt oor my optrede. Ek is jammer teenoor die mense reg oor die wêreld wat opgekyk het na my, veral die kinders. Ek weet ek is ʼn rolmodel en het in hierdie geval nie soos een opgetree nie.

“Ek verstaan ek het mense teleurgestel en ek verstaan die teleurstelling in die breër gemeenskap. Woorde beteken nie baie in hierdie omstandighede nie, daarom sal ek op my aksies en my optrede fokus op die pad vorentoe.”

Bancroft het bygevoeg dat hy sedert Saterdag elke oomblik wens hy kon tyd terugdraai en die regte ding doen. “Dit is iets waaroor ek vir die res van my lewe sal spyt wees. Dit is iets waarop ek sal verbeter en waarvoor ek die respek van die gemeenskap weer sal verdien. Al wat ek nou onmiddellik kan doen, is om om vergifnis te vra. Ek hoop julle kan dit in jul harte vind om my toe te laat om hierdie pad te stap. Vir die oomblik wil ek my beste doen om tot die gemeenskap by te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Indien hul nie uitgevang was nie, is ek doodseker daar sou geen gebiegery of n snot en tranesessie gewees het nie. Die werklike probleem is gebrek aan integriteit.

Gerda Pienaar ·

Wat van ‘n verskoning aan die Proteas? ‘n Algemene verskoning is nie genoeg nie. Die oortreding was teenoor julle opponente

Therese van Schalkwyk ·

‘n Moeë, berouvolle Steve Smith het sy opregte verskoning begin deur Australië en die hele wêreld se krieketondersteuners om verskoning te vra.
As dít, en die swaar straf wat hom opgelê is, nie goed genoeg is vir sommige nie, sou net ‘n brandstapel seker gedeug het.
Gelukkig tog vir mense soos Faf du Plessis wat pragtige trooswoorde vir Smith gehad het.

Spike ·

Warner met sy houding het die 2 beinvloed en oordonder. Hy moet lewenslank geskors word.

Joe Hall ·

Dit is toe nie die eerste of enigste keer dat die Aussies hierdie trieks gebruik om die bal se verweer en gevolglike omgekeerde swaai op ‘n baie vroeë stadium te bewerkstellig nie.

Vra maar vir Vinnige Fanie en ander ervare, kundige krieketspelers wat die spul Aussie boulers se “vermoëns” om die ongelooflike swaai na slegs 25 boulbeurte, reeds vanaf die Eerste Toets verdag gevind het. Trouens Fanie het die betrokke kameramense van sy vermoedens vertel, waarna hulle na ‘n uur of wat agter die skelm kap van die Australies byl gekom het.

Dis ‘n stokou ding. Smittie se tranedal is bloot tewyte aan die feit dat hulle uitgeloop is, groot geld verloor het en nou so skaam is, dat hulle nie weet waar om hulle koppe weg te steek nie.

Joe Hall ·

Dit is toe nie die eerste of enigste keer dat die Aussies hierdie trieks gebruik om die bal se verweer en gevolglike omgekeerde swaai op ‘n baie vroeë stadium te bewerkstellig nie.

Vra maar vir Vinnige Fanie De Villiers en ander ervare, kundige krieketspelers wat die spul Aussie boulers se “vermoëns” om die ongelooflike swaai na slegs 25 boulbeurte, reeds vanaf die Eerste Toets verdag gevind het. Trouens Fanie het die betrokke kameramense gedurende die 3e Toets van sy vermoedens vertel, waarna hulle na ‘n uur of wat agter die skelm kap van die Australies byl gekom het.

Dis ‘n stokou ding. Smittie se tranedal is bloot tewyte aan die feit dat hulle uitgeloop is, groot geld verloor het en nou so skaam is, dat hulle nie weet waar om hulle koppe weg te steek nie.

Helene ·

Ek voel jammer vir hom! Dis nooit te laat vir opregte berou nie!~

Marius ·

Ek voel die Aussies oor reageer. Soos baie hier bo ook noem: Dis verseker nie die eerste keer dat so iets gebeur nie, en as die Aussie kicked gemeenskap nou so wil voorgee, is hulle of baie naief, of hulle dink ons is stupid

rollie ·

Hy lieg nog steeds, dis definitief nie die eerste keer wat hulle aan die bal peuter nie.

alwyn burger ·

Het Lehmann niks hiervan geweet nie?. Was hy nie deel van die leierskapspan nie?.
Alwyn Burger
Middelburg O.K.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.