Aussie-krieketster (59) sterf in Indiese hotel

Dean Jones. Foto: ANA.

Dean Jones, die Australiese kolwer en krieketkommentator, is Donderdag oorlede. Daar word berig dat die 59-jarige ’n hartaanval gehad het.

Jones was deel van die Indiese Premierliga-kommentatorspan. Hy het vanoggend saam met sy kollegas ontbyt geniet in Mumbai, Indië, toe hy skielik inmekaar gesak het.

Volgens sommige berigte het die voormalige Australiese snelbouler Brett Lee mond-tot-mond-asemhaling op Jones toegepas in ’n desperate poging om sy lewe te red, maar dit was te laat.

Hy is per ambulans na die Harkisandas-hospitaal vervoer, maar die Times of India berig hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Sy afsterwe is deur die Indiese TV-stasie waarvoor hy gewerk het, Star Sports, bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons die nuus bevestig dat Dean Mervyn Jones oorlede is. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en is gereed om hulle in hierdie moeilike tyd te ondersteun,” het die stasie in ’n verklaring gesê.

(AP Photo/Liu Heung Shing, File)

Die Melbourne-boorling was bekend vir sy flambojante kolfwerk en hy het vir Australië in 52 toetse en 164 eendagwedstryde verteenwoordig.

Krieketliefhebbers sal veral sy ongelooflike vegtersbeurt van 210 teen Indië in Chennai in 1986 onthou. Die wedstryd het gelykop geëindig, maar Jones het teen hitte en dehidrasie baklei om een van toetskrieket se beste kolfbeurte ooit te speel.

Sedert die nuus van sy dood bevestig is, het huldeblyke vir die 59-jarige ingestroom.

“Ek kan die ongelooflike hartseer nuus skaars glo. Jy sal gemis word, Deano,” het David Warner, Australiese openingskolwer, op Twitter gesê.

Australië se witbalkrieketkaptein, Aaron Finch, het ook sy medelye aan Jones se familie betoon, terwyl Glenn Maxwell gesê het dat die 59-jarige sy held was.

“Ek is geskok oor die nuus dat Dean Jones dood is. Ek het ’n plakkaat van hom teen my kamermuur gehad en ek was bevoorreg dat hy my afrigter in my eerste jaar van Big Bash League-krieket was,” het Maxwell op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae