Aussies bevestig Indië se bewerings van rassisme

Foto: Saeed Khan/AFP. S

Krieket Australië (CA) het bevestig dat Indiese spelers wel onder rassisme deurgeloop het tydens die derde toets van die afgelope reeks teen Australië.

Die huidige ondersoek het egter bevind dat die ses toeskouers – wat deur veiligheidswagte uit die Sydney Cricket Ground (SCG) gesmyt is – nie rassistiese opmerkings jeens Mohammad Siraj gemaak het nie.

Die Indiërs het aangevoer dat Siraj en Jasprit Bumrah deur die Sydney-toeskouers geteiken is. Dit was veral toe die twee snelboulers op die grens veldwerk gedoen het waar die tuisskare hul ore glo laat tuit het.

Ajinkya Rahana, Indië se tydelike kaptein in Virat Kohli se afwesigheid, het saam met Siraj ʼn klag by die wedstrydbeamptes ingedien, waarna die toeskouers uit die stadion gesmyt is.

“Krieket Australië kan bevestig dat lede van die Indiese krieketspan onder rassistiese kommentaar deurgeloop het. CA is steeds besig om die aangeleentheid te ondersoek en beeldmateriaal van sekuriteitskameras sal saam met onderhoude ingespan word om die skuldiges vas te trek,” het Sean Carroll, CA se hoof van sekuriteit gesê.

“Ons het egter bevind dat die toeskouers, wat deur die media in die 86ste boulbeurt van die dag se spel afgeneem is, hulself nie aan rassistiese gedrag skuldig gemaak het nie.”

Foto: David Gray/AFP.

Volgens Indië se Ravichandaran Ashwin is dit nie die eerste keer dat Indiese spelers onder die Aussie-toeskouers deurloop nie.

“Hierdie is my vierde toer na Australië en veral in Sydney het ons al vantevore iets soortgelyks ervaar,” het die draaibalbouler gesê.

Volgens Ashwin het van sy spanmaats in die verlede teruggekap  – veral Virat Kohli tydens die toer van 2011/’12 – wanneer hulle deur die toeskouers getart word en is hulle op die vingers getik.

“Dit is pleinweg ’n reaksie op die manier waarop die skare gesels, veral wanneer ’n speler naby aan die grens diens doen.”

Die sterbouler het bygevoeg dat die besoekers gewoond is aan die aggressiewe Australiese toeskouers, maar dat die onlangse rassistiese kommentaar vir ’n wrang smaak in die mond sorg.

“Dit is iets wat ongetwyfeld nie in vandag se tye aanvaarbaar is nie en die skuldiges moet gestraf word. Daar moet seker gemaak word dat so iets nie weer gebeur nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

So wanneer is iemand rassisties. As iemand vir my sê: “ek as wit man is dom” is dit ‘n rassistiese opmerking? Is dit net rassisties omdat die persoon die term “wit” gebruik het? Vra maar net, die homo sapiens het sag geraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.