Engeland het sy sesde nederlaag van die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië gely toe sy kolwers nie die mas teen Australië se Adam Zampa en sy makkers kon opkom nie.
Die Engelsmanne moes 287 lopies vir ʼn oorwinning aanteken, maar hulle is in die 49ste boulbeurt vir 253 lopies uitgeknikker.
Jonny Bairstow is met die eerste aflewering van die Engeland-beurt agter die paaltjies uitgevang, terwyl Joe Root ook gekom en gegaan het.
Ben Stokes en Dawid Malan het daarna die kastaiings uit die vuur probeer krap, maar Zampa het die fut uit Engeland se seile gehaal met sy spoggerige boulontleding van 3/21 in sy tien boulbeurte.
Chris Woakes en Adil Rashid het tevergeefs teen die einde van die kolfbeurt met ʼn paar groot houe losgetrek om Engeland se wenvlammetjie so ʼn bietjie te laat opflikker.
Dit was egter te min en hopeloos te laat.
Vroeër het Marnus Labuschagne ʼn goeie beurt van 71 lopies vir Australië gespeel, terwyl Chris Woakes met sy vier paaltjies uitgeblink het.
- Opsomming van die telkaart:
Australië 286/10 in 49,3 boulbeurte: Marnus Labuschagne 71, Cameron Green 47 en Chris Woakes 4/54.
Engeland 253/10 in 48,1 boulbeurte: Ben Stokes 64, Dawid Malan 50 en Adam Zampa 3/21.
- Wêreldbeker-punteleer:
- Indië: 14 punte ná sewe wedstryde
- Suid-Afrika: 12 punte ná sewe wedstryde
- Australië: 10 punte ná sewe wedstryde
- Nieu-Seeland: 8 punte ná agt wedstryde
- Pakistan: 8 punte ná agt wedstryde
- Afghanistan: 8 punte ná sewe wedstryde
- Sri Lanka: 4 punte ná sewe wedstryde
- Nederland: 4 punte ná sewe wedstryde
- Bangladesj: 2 punte ná sewe wedstryde
- Engeland: 2 punte ná sewe wedstryde.