Aussies glo hul snelaanval hou die troewe

Jy sal dit nie in rugby kry dat die derde en die vyfde beste spanne ter wêreld ondersteuners oor sewe weke absoluut geboei hou nie, maar dit is wat die As-reeks van Donderdag af in Brisbane sal doen.

Dit is die eerste toets in die 70ste As-reeks tussen die twee spanne. Na 69 reekse het Australië, tans vyfde op die wêreld se ranglys en Engeland, derde, elk 32 keer die As gewen met vyf reekse wat gelykop geëindig het.

Vanjaar is daar twee nuwe kapteins in hierdie reeks, Steve Smith en Joe Root; twee jong kolflyste wat nie een veel vrees of vertroue inboesem nie; en dit is net die draaier Nathan Lyon van die Aussies se vier boulers wat al tuis in ʼn reeks op die As gespeel het.

Daarenteen is Engeland se Stuart Broad en James Anderson die twee boulers wat die meeste As-paaltjies  nog  geneem het.

Engeland het vier van die laaste vyf As-reekse gewen. Die vorige besoek aan Australië in 2013/’14 was egter ʼn nagmerrie vir Engeland toe Australië die reeks 5-0 gewen het.

♦  Dit is egter geskiedenis. Tog het geskiedenis ʼn manier. Een van die stukkies statistiek wat Engeland sal kwel is dat hulle 29 jaar laas op die Gabba in Brisbane kon wen.

Baie wip, ʼn vinnige kolfblad, kwaai hitte en humiditeit – ook snags, wat die Engelse se energie verder sal tap – en ʼn aggressiewe skare sal dit moeilik vir Engeland maak om ʼn eerste wen na 29 jaar te behaal.

♦  Die tuisspan se snelaanval, Josh Hazelwood, Pat Cummins en Mitchell Stark hou, so glo Aussie-ondersteuners, die troewe.

Cummins, nou 24, het in 2011 sy eerste toetstreë in Suid-Afrika gegee toe hy net 18 was.

Hy het 6/79 in sy enigste toets geneem, wat hom toe die tweede jongste bouler gemaak het wat ses paaltjies in ʼn toets-kolfbeurt neem.

Hy is  as speler van die wedstryd aangewys maar was toe vyf jaar van die radar af met ʼn stresfaktuur in sy rug en ʼn aantal ander, uiteenlopende beserings.

Sy vaart, en veral die wip wat hy uit ʼn kolfblad kan haal, maak hom die gevaarman soos Mitchell Johnson in 2013/’14 was toe hy die Engelse kolwers geterroriseer het.

As Cummins vir Alastair Cook vroeg in Engeland se kolfbeurt kan kry, en met die afwesigheid van Ben Stokes wat tot ʼn herskommeling van die Engelse kolflys gelei het, sal Root-hulle hard moet werk om uit die moeilikheid te bly.

Anders as so baie spanne, oor die sekerheid wat die kolfblad sal bied, het albei hulle finale elftalle reeds aangewys.

Die wedstryd begin Donderdagoggend 02:00 SA tyd. 

Die spanne –

Australië: 1 Cameron Bancroft, 2 David Warner, 3 Usman Khawaja, 4 Steven Smith (kaptein), 5 Pete Handscomb, 6 Shaun Marsh, 7 Tim Paine, 8 Mitchell Starc, 9 Pat Cummins, 10 Nathan Lyon, 11 Josh Hazlewood.
Engeland: 1 Alastair Cook, 2 Mark Stoneman, 3 James Vince, 4 Joe Root (kaptein), 5 Dawid Malan, 6 Moeen Ali, 7 Jonny Bairstow,  8 Chris Woakes, 9 Jake Ball, 10 Stuart Broad 11 James Anderson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.