Aussies het ’n krieketpêrel in Boland gevind

Scott Boland vier sy paaltjies op die Melbourne Cricket Ground. Foto: Hamish Blair/AFP.

“Build the man a statue!” het Mark Howard opgewonde vanuit die kommentatorshokkie gebulder toe Scott Boland sy sesde paaltjie op die ikoniese Melbourne Cricket Ground (MCG) geneem het.

Die 32-jarige snelbouler het daardie beurt met ’n boulontleding van 6/7 afgesluit en hy was een van Australië se groot helde in die pasvoltooide Reeks om die As.

In net drie toetse het hy 18 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 9,55 geneem en veral Joe Root het maar swaar teen hom geleef.

Boland het die beleërde Engelse krieketkaptein vier keer in ses beurte terug na die kleedkamer gestuur en veral die laaste uitknikkersessie in Hobart het Engeland se rampspoedige toer perfek opgesom: Die bal het grond gevat en soos ’n wafferse slang onderdeur ’n verdwaasde Root se kolf geseil om hom skoon te boul.

Ja, daar was al boulers wat met ’n beter boulgemiddeld ná ’n As-reeks gespog het, maar hulle het almal hul krieket in die 19de eeu gespeel toe kolfwerk nog ’n hengse uitdaging op moeilike baanblaaie was.

Met Josh Hazlewood wat een of ander tyd sy terugkeer van ’n besering sal maak, is daar geen sekerheid dat Boland in die wedstrydelftal vir die Aussies in hul komende wedstryde sal wees nie.

Hazlewood is saam met Pat Cummins (kaptein) en Mitchell Starc so te sê verseker van sy plek in die toetsreeks teen Pakistan, terwyl Boland en Jhye Richardson waarskynlik om ’n plek sal moet vuisslaan.

“Josh is een van die beste boulers ter wêreld en dit sal moeilik wees om hom uit te laat. Tog is dit harde werk om internasionale krieket te speel en ek hou van die snelboularsenaal wat ons besig is om op te bou,” het Cummins gesê.

Boland was 32 jaar en 259 dae oud toe hy sy toetsbuiging vir Australië gemaak het – een van die oudste snelboulers in die land se krieketgeskiedenis om die baggy green-pet vir die eerste keer in ontvangs te neem.

En selfs al verteenwoordig hy nie weer vir Australië in ’n rooibalkrieketwedstryd nie, sal Engeland nog lank nagmerries oor Scott Boland se boulwerk kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.