Aussies het respek vir Smith se SCG-heldedade

Graeme Smith het met ’n gebreekte hand gekolf. Foto: Twitter.

Krieket Australië het ’n lys van die grootste oomblikke in toetskrieket oor die afgelope 20 jaar in Australië opgestel.

En tussendeur Glenn McGrath se paaltjies, David Warner se honderdtalle en Mitchell Johnson se blitsige aflewerings, is daar ook plek vir Graeme Smith se heldedade.

Op 7 Januarie 2009 het die gewese Suid-Afrikaanse kaptein die verbeelding van die krieketwêreld aangegryp toe hy met ’n gebreekte hand op die Sydney Cricket Ground (SCG) gaan kolf het.

Twee skitterende vertonings in Perth en Melbourne het gesorg dat Smith se Proteas die eerste Suid-Afrikaanse span geword het om ’n toetsreeks in Australië te wen. Dit was ook die eerste reeksnederlaag wat die Aussies in 17 jaar op tuisbodem gely het.

Smith-hulle wou egter nie die voet van die versnelpedaal haal nie en hulle het in Sydney gemik om die reeks met 3 – 0 te beklink.

Michael Clarke het egter sterk met die kolf vertoon en sy 138 het gesorg dat die Aussies 445 in hul eerste beurt aangeteken het.

Neil McKenzie en Smith het egter die Protea-beurt goed begin en veral Smith het aggressief gekolf.

Hy het vyf goeie grenshoue geslaan, maar met sy telling op 30 het een van Johnson se kartetse sy hand teen 144 km/h getref.

Graeme Smith is KSA se eerste direkteur van krieket. (Foto: ANA)

Die Proteas se mediese personeel het hom onmiddellik te hulp gesnel, maar die diagnose was nie goed nie: Sy linkerhand was gebreek.

Mark Boucher se vegtersbeurt van 89 het egter gesorg dat die Suid-Afrikaners 327 lopies in hul eerste beurt kon aanteken; hulle is egter steeds deur ’n agterstand van 118 lopies in die gesig gestaar.

Die Aussies het hul tweede beurt op 257/4 verklaar en die Suid-Afrikaners moes 376 lopies vir ’n oorwinning aanteken.

Maar sou Smith weer kon kolf?

“As ons tien lopies benodig om te wen, is ek seker daarvan dat Graeme sal kolf; dit hang alles van die situasie af,” het die Protea-draaier, Paul Harris, voor die Suid-Afrikaanse beurt gesê.

Met die telling op ’n wankelrige 202/8 het Makhaya Ntini by Dale Steyn op die laaste dag van die toets aangesluit.

Die twee snelboulers het vir 75 minute wal gegooi, voordat Steyn deur Andrew McDonald been voor paaltjie betrap is. Daar was net 50 aflewerings in die toets oor.

Al die toeskouers en elke kameraman het hul aandag op die Suid-Afrikaanse kleedkamer gevestig. En die rateltaai Protea-kaptein het nie teleurgestel nie.

Met Jacques Kallis se hemp, Harris se trui en ’n aangepasde kolfhandskoen het Smith die pad na die kolfblad aangepak. Daar was nie pynpille nie en die armstut het ook in die kleedkamer agtergebly.

Die toeskouers was op hul voete, terwyl Mark Nicholis die Protea-kaptein se lof vanuit die kommentatorshokkie gesing het.

“Hierdie is ’n magtige figuur,” het Nicholis gesê terwyl Smith stelling voor die paaltjies ingeneem het.

“Ek wou net my bes gee; selfs al word ek met die eerste aflewering uitgehaal. Ek het inspuitings vir my tennis-elmboog ontvang, terwyl my hand glad nie wou saamspeel nie,” het Smith ná die tyd gesê.

Hy het uiteindelik vir 26 minute gekolf voordat Johnson hom skoongeboul het.

Daar was 11 balle in die wedstryd oor.

“Dit was een van die dapperste dinge wat ek nóg op ’n krieketveld gesien het,” het die Aussie-kaptein, Ricky Ponting, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.