Aussies is krieket se mokerkampioen

Mitchell Marsh het 77 lopies in Australië se suksesvolle lopiejaagtog geslaan. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Vóór vandag kon ’n Australiese krieketkaptein nog nooit die T20-Wêreldbekertrofee omhoog hou nie. Maar ná 38,5 aksiebelaaide boulbeurte in Dubai het ’n kougomkouende Aaron Finch die silwerware in ontvangs geneem.

Die Aussies het vir Nieu-Seeland met agt paaltjies geklop nadat die Kiwi’s hulle ’n teiken van 173 gestel het.

Finch het vroeg sy paaltjie in die lopiejaagtog verloor, maar David Warner (53 van 38 balle) en Mitchell Marsh (77* van 50 balle) het met hul puik vennootskap van 92 lopies om die tweede paaltjie die Aussie-skip weer op koers gekry.

Glenn Maxwell het daarna sy reputasie as ’n krieketvermaaklikheidster gestand gedoen en hy het 28 vinnige lopies geslaan.

Marsh is as die speler van die wedstryd aangewys, terwyl Warner die beste in die reeks is – glad nie sleg vir ’n speler wat vroeër nie eens speelkans vir die Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga gekry het nie.

Die Swartpette het hul beurt maar bra stadig begin. Hulle het net meer as 50 lopies ná tien boulbeurte op die telbord gehad, tog het Kane Williamson se warrelwindbeurt gesorg dat hulle 172/4 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Die Nieu-Seelandse kaptein was nog altyd ’n baie goeie kolwer, maar hy is nie ’n kolwer wat met die perdekrag van ’n AB de Villiers of ’n Maxwell spog nie.

Hy het egter vandag met 13 grenshoue vorendag gekom en veral Mitchell Starc (0/60) het swaar geleef.

Maar vir elke Starc-treurmare is daar ’n Josh Hazlewood-vertoning en die 30-jarige snelbouler het met ’n boulontleding van 3/16 gespog.

Australië was vandag inderdaad die beter span, maar dit het ook (soos in ander wedstryde in die toernooi) gehelp om die loot te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Veels geluk, Aussies. Welverdiend.
‘n “Stukkie statistiek” is reggestel.
Kevin Pietersen sal ook nie sommer weer die wenspan voortydig op die trofee wil graveer nie.

Peach ·

Was die tyd voor die tv werd….. dink nie dit sou dieselfde spel gehalte gewees het indien die Chokers, oeps Proteas in die eind stryd sou gespeel het nie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.