Aussies is Warner-loos, maar Marnus gaan nie kolfwerk open

David Warner en Marnus Labuschagne. Foto: Jeremy Ng/AFP.

Justin Langer sit met ’n kolfwerk-kopseer op die vooraand van die eerste toets teen Indië in Adelaide.

Met die Australiërs se David Warner wat die wedstryd weens ’n liesbesering sal misloop en Joe Burns wat sukkel om lopies te slaan, spartel Langer om twee goeie kolwers te kry om die kolfwerk te open.

In die Australiese media word Marnus Labuschagne se naam gereeld in die hoed gegooi om eerste uit te stap om die rooi bal te trotseer.

En met goeie rede.

Die 26-jarige voormalige Klerksdorper – wat op tienjarige ouderdom saam met sy ouers na Australië verhuis het – gaan van krag tot krag sedert hy sy buiging teen Pakistan in Dubai gemaak het.

In 14 toetse vir Australië het hy reeds 1 459 lopies teen ’n spoggemiddeld van 63,43 geslaan. Daarbenewens het hy groot honderdtalle in twee onlangse Sheffield Shield-wedstryde vir Queensland gemoker.

Maar Labuschagne maak normaalweg sy beenskutte stywer vas wanneer die eerste paaltjie val. En Langer wil nie sommer aan sy sterkolwer se posisie in die kolforde torring nie.

“Marnus gaan nie die kolfwerk open nie,” was sy onmiddellike antwoord toe die plaaslike media hom daaroor gepols het.

“Op die oomblik is Joe Burns en Marcus Harris die twee openingskolwers in die groep en daar wag ’n paar moeilike besluite op die keurpaneel.”

Die 31-jarige Burns beleef egter ’n nagmerrie-tydperk met die kolf. In sy laaste nege eersterangse beurte het hy net 62 lopies teen ’n eina-gemiddeld van 6,89 aangeteken.

Tog glo Ricky Ponting dat die keurders hul vertroue in Burns moet plaas.

“Ek sou vir Joe Burns gekies het. Ek weet baie mense meen dat hy nie genoeg lopies aangeteken het om sy plek in die span te regverdig nie, maar ek sou hom in die span gehou het,” het die voormalige Aussie-kaptein gesê.

“Hy het 40 lopies in sy laaste toetsbeurt geslaan en hy het reeds vier honderdtalle in sy loopbaan aangeteken. Ek dink hy is goed genoeg om weer sy staal op die groot verhoog te wys.”

Ponting glo dat Matthew Wade – die Australiërs se veglustige paaltjiewagter – die kolfwerk saam met Burns moet open.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hoekom ·

Oja krieket en sy politieke vleuel, KSA, bestaan nog……………………………………………………………………………

Lian ·

Baie geluk, Marnus. Mag jy ‘n uitstekende loopbaan in jou nuwe vaderland geniet. Dis mos belangriker in Suid Afrika dat die getalle klop as meriete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.