Aussies moet spiere teen Bangladesj bult

Australië se Glenn Maxwell en Aaron Finch. Foto: Twitter.

Haal maar solank jou sakrekenaar uit om dinge soos die netto lopietempo uit te werk, maar eintlik is die som heel eenvoudig vir Australië om vir die Wêreldbeker-halfeindstryd te kwalifiseer.

Aaron Finch se span sal hul oorblywende wedstryde teen Bangladesj (vandag) en die Wes-Indiese Eilande (Saterdag) moet wen, terwyl hulle ook sal duim vashou dat Engeland die Proteas klop.

Dan is die pad na die halfeindstryd eintlik sonder enige slaggate vir hulle.

Die probleem is egter dat T20-krieket ongelooflik onvoorspelbaar is (enige span kan eintlik ’n wedstryd wen), terwyl dáárdie nederlaag teen die Engelse hul netto lopietempo baie seergemaak het.

Engeland het die wedstryd binne 11 boulbeurte gewen nadat hulle die Aussies vir slegs 125 uitgehaal het. Finch het gelyk asof hy aan bomskok ly toe hy agterna joernaliste se vrae beantwoord het, terwyl die legendariese Shane Warne die Australiërs se spankeuse bevraagteken het.

Hulle het egter nou genoeg tyd gehad om dinge in oënskou te neem en ’n bietjie aan hul span te torring – Mitchell Marsh is weer terug.

“Australië is met sy rug teen die muur en die span sal móét speel om te wen,” het Shane Watson (oudspeler en kommentator) gesê.

’n Lekker stukkie statistiek: Hoewel Australië al ’n paar keer met die Wêreldbeker-louere in eendagkrieket weggestap het, kon hulle nog nooit die silwerware in die T20-toernooi omhoog hou nie.

Bangladesj is egter reeds kniediep in die moeilikheid met sy telling op 10/3.

Australië: David Warner, Aaron Finch, Mitchell Marsh, Steve Smith, Glenn Maxwell, Marcus Stoinis, Matthew Wade, Pat Cummins, Mitchell Starc, Adam Zampa en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dit sal ‘n enorme verrassing wees as Suid-Afrika dit regkry om Engeland te klop. Having said that…Engeland sal waarskynlik eerder teen Siuid-Afrika as Australië in ‘n moontlike eindstryd speel…So om teen SA te verloor, sal waarskynlik nie die ergste ding vir hul wees nie…

Harley Davidson ·

Ek dink nie die kniebuigers,kwota span kan Engeland klop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.