Aussies opgewonde oor SA-ners in hul Big Bash

AB de Villiers laat waai met nog n ses. Foto: Cricinfo.

Australië se plaaslike T20-reeks, die KFC Big Bash, het gister begin met Sydney Thunder wat Brisbane Heat met 29 lopies geklop het.

Drie Suid-Afrikaners het Fox Sport se lys van die vyf gevaarlikste internasionale spelers gehaal. AB de Villiers, David Miller en Dale Steyn se teenwoordigheid laat die Aussie-joernaliste beslis regop sit.

Hier is wat hulle van elke speler geskryf het:

  • AB de Villiers (Brisbane Heat):

Volgens die nuusblad is De Villiers saam met Jacques Kallis en Graeme Pollock sonder enige twyfel Suid-Afrika se beste kolwers nóg.

Die Aussies beskryf hom as die enigste kolwer wat vir Steve Smith en Virat Kohli kan kers vashou. Hulle is veral beïndruk met sy laaste toetsreeks net vóór sy uittrede, toe hy basies op sy eie die reeks teen Australië vir die Proteas beklink het.

“AB kan letterlik enige hou speel, maak nie saak hoe buitensporig of ingewikkeld dit mag lyk nie. Hoewel hy reeds vir die Proteas sy stempel in Australië afgedruk het, sal hy poog om sy status as ’n krieketlegende net ’n ekstra hupstoot te gee.”

  • Dale Steyn (Melborne Stars):

Dale Steyn. Foto: Cricinfo.

Steyn het weliswaar minder toetspaaltjies as Glen McGrath, James Anderson en Stuart Broad, maar die Aussies voel dat sy treftempo van 42,3 aflewerings per paaltjie hom in ’n klas van sy eie plaas.

“Sy treftempo-statistiek maak van hom waarskynlik die beste snelbouler sedert die legendariese Malcolm Marshall destyds sy aanloop vir Wes-Indië uitgemeet het.”

“Dale Steyn het weliswaar die laaste toetsreeks teen Australië in 2018 misgeloop, maar hy het ’n beduidende rol in die Proteas se reeksoorwinnings van 2008 en 2012 gespeel.”

“Steyn en De Villiers sal sorg dat twee van die spel se reuse vanjaar se Big Bash op horings kan neem.”

  • David Miller (Hobart Hurricanes):

David Miller. Argieffoto.

“Miller se krieket-getuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof: Hy het die vinnigste internasionale T20-honderdtal nóg geslaan.”

Die Aussies praat hier van die sterk Suid-Afrikaner se pragbeurt van 101 vanaf slegs 36 aflewerings teen Bangladesj.

“Hy weet egter ook hoe om Australiese boulers te verrinneweer. Wie sal ooit sy onoorwonne 118 vergeet toe hy gesorg het dat die Proteas 371 vir ’n oorwinning aangeteken het?”

Miller sal saam met D’Arcy Short, Matthew Wade en George Bailey die kern van die Hurricanes se kolflys vorm.

  • Rashid Khan en Alex Hales is die ander spelers in Fox se lys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.