Aussies plant nóg ʼn uitklophou

Travis Head het 91 lopies in Australië se beurt aangeteken. (Foto: Twitter/IKR)

Australië het ʼn derde en laaste uitklophou in die T20-reeks teen die Proteas in Durban geplant. Die besoekers het die kragmeting met vyf paaltjies gewen nadat hulle 191 lopies vir ʼn oorwinning moes aanteken.

Sodoende het Mitchell Marsh se span die reeks met 3-0 beklink.

Die Proteas het vandag eerste gekolf en hul beurt het rampspoedig begin toe Temba Bavuma nie een van Marcus Stoinis se kort-van-ʼn-lengte-aflewering kon bemeester nie.

Die 33-jarige kolwer is met die tweede aflewering van die wedstryd uitgehaal; ʼn kort rukkie later is Matthew Breetzke ook uitgevang nadat hy die bal té hard probeer slaan het.

Reeza Hendricks (42), Aiden Markram (41) en Tristan Stubbs (25) het ʼn paar goeie houe gespeel, maar die Proteas se groot wilgerlat-held was beslis Donovan Ferreira.

Die 25-jarige oudleerder van Pretoria Boys’ High het sy internasionale buiging gemaak en hy het die Protea-beurt ʼn welkome adrenalien-hupstoot met ʼn paar groot sesse gegee.

ʼn Teiken van 191 lopies het aansienlik beter gelyk as die Suid-Afrikaners se vorige poging van net meer as 160 lopies.

Markram het boonop die tuisskare verdere rede gegee om te glo toe hy vir Matthew Short met die eerste aflewering van die Aussie-beurt been voor paaltjie betrap het.

Travis Head (91) en Josh Inglis (42) het egter die vreugdevure uitgedoof: Die Australiese kolwers was maar weer eens net te goed vir die Suid-Afrikaanse boulers, terwyl ʼn paar verbroude vangkanse ook vir Protea-hoofbrekens gesorg het.

“Ons het vandag ʼn bietjie beter gespeel. Ons is nog glad nie waar ons moet wees nie, maar dinge het beter gelyk. Donovan verdien ook lof vir die wyse waarop hy in sy eerste internasionale wedstryd gespeel het,” het kaptein Markram gesê.

Die eendagreeks tussen die twee spanne begin Donderdag in Bloemfontein.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 190/8 in 20 boulbeurte: Donovan Ferreira 48, Reeza Hendricks 42 en Sean Abbott 4/31.

Australië 191/5 in 17,5 boulbeurte: Travis Head 91, Josh Inglis 42 en Bjorn Fortuin 2/36.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Ek hoop hulle kies ‘n sterker span vir die ODI’s want hierdie span is definitief te swak. Daar was ‘n groot gaping in gehalte tussen die twee spanne. Maar het ons die spelers?

Mnr De Beer ·

Ek stem saam. Suid Afrika Krieket het potensiaal om beter te vaar.

Anton ·

Nadat hulle begin kniel het, kyk ek gelukkig glad nie meer die gemors nie.
Dis nou een wat elke dag van ‘n 5 dag toets gaan kyk het. Alles geruineer

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.