Aussies sê nee vir toer na SA

Foto: Marco Longari/AFP.

Australië se krieketraad het vandag bevestig dat Tim Paine se span nie na Suid-Afrika vir ’n toetsreeks sal toer nie.

Volgens Nick Hockley, Krieket Australië (CA) se tydelike uitvoerende hoof, het die onlangse tweede vlaag van Covid-19-gevalle in Suid-Afrika die raad se besluit beïnvloed.

“Dit is duidelik dat om tans van Australië na Suid-Afrika te reis ongetwyfeld gesondheid- en veiligheidsrisiko’s vir ons spelers, ondersteuningspersoneel en gemeenskap inhou,” het Hockley gesê.

Die Proteas is tans in ’n toetsreeks teen Pakistan gewikkel en hulle het ’n jong en onervare groep spelers vir die daaropvolgende T20-reeks gekies. Kernspelers soos Quinton de Kock en Faf du Plessis sou dan na Suid-Afrika teruggekeer het om vir die toetse teen Australië voor te berei.

Hockley het sy waardering jeens Krieket Suid-Afrika (KSA) uitgespreek vir sy harde werk om die toer ’n werklikheid in hierdie onsekere tye te maak. Hy het bygevoeg dat Australië bereid was om bykomende koste te dek om toe te sien dat die reeks kon voortgaan.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie en ons is ongelooflik teleurgesteld. Maar sedert die begin van die pandemie is ons spelers se gesondheid egter ons hoofprioriteit en ten spyte van die beste planne om hul veiligheid te verseker, is die risiko tans net te groot.”

Volgens Hockley word na alternatiewe datums gekyk om die wedstryde aan te bied.

Die wending beteken dat Australië waarskynlik ’n plek in die eindstryd van die Internasionale Krieketraad se Toetskrieket-kampioenskap kwyt is.

Nieu-Seeland kan nou teen Indië of Engeland te staan kom.

Intussen het die plaaslike owerhede van Victoria aangekondig dat tot 30 000 ondersteuners daagliks toegelaat sal word om die aksie van die Australiese Ope te volg.

In Suid-Afrika – soos in baie ander lande – word tans nog geen toeskouers by wedstryde toegelaat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anti-Verkramp ·

Perth het 1 Covid-geval en die hele stad is in maksimum lockdown onmiddellik. Hoe hou julle moaners van daai inperking?

Hydi ·

Ons is midde-in ‘n pandemie. Halooooooo!!!!! Jy kan dit nie vergelyk met padsterftes nie. Genade tog!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.