Aussies se o. 19’s slag Indië in eindstryd af  

Australië se 0.19’s het Indië pak slae gegee. (Foto: X/ cricket.com.au)

Australië se o. 19-krieketspan het die Aussies se oorheersing in wêreldkrieket verder onderstreep toe hulle Indië se o .19-span in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Benoni geklop het.

Die Aussies het 253/7 in hul 50 boulbeurte aangeteken en Indië tot 174/10 in 43,5 boulbeurte beperk, wat aan hulle ʼn oorwinning van 79 lopies besorg het.

Die Aussies, wat die vierde keer as kampioen gekroon is, het hul aanslag haarfyn beplan. Die keurders het vier naatboulers (in bewolkte toestande) vir die eindstryd gekies om die sterk Indiese kolflys in toom te hou.

En toe die Indiërs nie die mas teen die snelbal-arsenaal kon opkom nie, het die enigste draaier, Raf MacMillan, verdere amok gesaai.

Die Aussies se jongelinge trap nou in die voetspore van die manspan wat die Internasionale Krieketraad se toetskampioenskap in 2023 op Lord’s teen Indië gewen het. Australië se eendagspan het in November 2023 die Wêreldbekertoernooi gewen toe hy Indië met ses paaltjies in Ahmedabad geklop het.

Die Aussies se vrouespan troon ook kop en skouer uit bo die res. Die toetsspan het die beste vertoningslys van alle lande en die T20-span het in 2023 die sesde keer die T20-Wêreldbekertoernooi gewen toe hy Suid-Afrika op Nuweland geklop het. Die Aussies se eendagspan het in 2022 die Wêreldbekertoernooi ʼn sewende keer gewen.

Sondag op Willowmore het die Aussies se jongelinge die skroewe styf vasgedraai en die Indiërs was op soek na ʼn wenteiken van 254.

Dié telling is die grootste wat nog in ʼn eindstryd gejaag moes word.

In Indië se kolfbeurt van 174 het die aanvangskolwer Adarsh Singh met 47 lopies (77 balle, 4×1, 1×6)) die meeste weerstand gebied. Teen die einde het Murugan Abhishek (42) skouers oopgemaak.

Uday Saharan (8), Sachin Das (9), Priyanbshu Moliya (9) en Arshin Kulkami (3) het egter almal misluk.

Die Aussies se beste boulers was Mahli Beardman (3/15), MacMillan (3/43) en Callum Vidler (2/35).

In die Aussies se kolfbeurt het Harjas Singh met 55 lopies (64 balle, 3×4, 3×6), die kaptein Hugh Weibgen met 48 lopies (66 balle, 5×4), Oliver Peake met 46* (43 balle, 2×4, 16) en die aanvangskolwer Harry Dixon met 42 lopies (56 balle, 3×4, 1×6) die ankerrolle gespeel.

Hoewel nie een van hulle by ʼn groot telling kon uitkom nie, was dit ʼn spanpoging, want hulle het gesorg dat die span nooit onder druk was nie.

Indië se beste bouler was Raj Limbali (3/38) en sy aanvangsvennoot Naman Tiwari (2/63), hoewel hy deurgeloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.