Aussies se tee smaak ’n bietjie soeter

Steve Smith en Marnus Labuschagne. Foto: Twitter.

Dit is teetyd op die tweede dag van die tweede toets tussen Australië en Engeland in Adelaide en die tuisspan se tee moet tans net ’n bietjie soeter as dié van die besoekers smaak.

Danksy Marnus Labuschagne (103) en Steve Smith (93) is die Aussies stewig in die saal met 390/7 op die telbord.

Die 27-jarige Labuschagne het vandag die sesde honderdtal van sy jong toetsloopbaan geslaan nadat hy gister die vyfde vinnigste kolwer nóg geword het om 2 000 lopies aan te teken.

Die dag se spel het op die slegste moontlike manier vir Engeland begin toe Ollie Robinson met sy eerste aflewering van Labuschagne ontslae geraak het.

’n Foutbal het egter weer eens hul feesviering kortgeknip.

Hoewel die Klerksdorp-boorling ’n rukkie later op ’n meer wettige manier uitgehaal is, het Smith en Alex Carey (51) die wind verder uit Engeland se seile gehaal.

Die 39-jarige James Anderson het egter met twee vinnige paaltjies weer vir ’n glimlag of twee gesorg, maar die Aussies is steeds goed op koers om ’n stewige eerstebeurttelling op te stapel.

O ja, Michael Neser (wat in Pretoria gebore is) het sy eerste toetslopies met ’n grenshou aangeteken toe hy van Stuart Broad se boulwerk die bal verby die glipveldwerkers gestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.