Aussies tops, maar Proteas is ook sterre

Laura Wolvaardt. Foto: Marty Melville/AFP.

Australië se vrouekrieketspan ry tans op die kruin van die golf nadat hulle die pasvoltooide Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland gewen het.

“Dit het vier weke se wedstryde gevat om te bevestig wat die meeste mense waarskynlik vir jou in vier sekondes sou kon gesê het: Australië is tans die beste span ter wêreld,” het Nasser Hussain in een van sy koerantrubrieke geskryf.

Volgens die voormalige Engelse kaptein is die Aussies ’n atletiese veldwerkspan, hulle is dinamiese kolwers en vaardige boulers – g’n wonder hulle spog met ’n hele paar spelers onder die wêreld se voorste kolwers en boulers nie.

Tog het ’n hele paar Suid-Afrikaners ook by die internasionale skouspel uitgeblink en ’n mens kan dit sien wanneer jy na die jongste Internasionale Krieketraad-ranglyste kyk.

Laura Wolvaardt – wat 433 lopies in Nieu-Seeland geslaan het – is tans vierde beste kolwer ter wêreld.

“Ek het ’n bietjie aan my kragspel gewerk en ek probeer om met meer houe die boulers onder druk te plaas – maak nie saak of dit ’n veeghou of ’n aggressiewe hou oor die bouler se kop is nie,” het die jong Suid-Afrikaner in ’n vorige onderhoud gesê.

Dan het Marizanne Kapp se heldedade beteken dat sy onder die voorste veelsydige spelers ter wêreld tel.

Sy is 22ste op die kolflys en sesde op die boullys.

Shabnim Ismail word deur haar spanmaats geluk gewens. Foto: Marty Melville/AFP.

Die vurige Shabnim Ismail is Suid-Afrika se voorste bouler en sy het gereeld kolwers in Nieu-Seeland met haar vaart en aggressie laat bontstaan.

Sy het onder meer tien lopies vanaf die laaste boulbeurt teen Pakistan verdedig om toe te sien dat die Proteas die kragmeting met ses lopies gewen het.

Ismail is toe welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys nadat sy net drie lopies in haar finale boulbeurt afgestaan het en boonop vir Diana Baig met ’n skitterende vangskoot vanaf haar eie boulwerk terug na die kleedkamer gestuur het.

“Ek het genoeg selfvertroue om nie net in só ’n situasie te boul nie, maar ook om die lopiekrane toe te draai,” het sy ná die wedstryd gesê.

Kolwers:

  1. Alyssa Healy (Australië)
  2. Natalie Sciver (Engeland)
  3. Beth Mooney (Australië)
  4. Laura Wolvaardt (Suid-Afrika)
  5. Meg Lanning (Australië)
  6. Rachel Haynes (Australië)
  7. Mithali Raj (Indië)
  8. Amy Satterthwaite (Nieu-Seeland)
  9. Smriti Mandhana (Indië)
  10. Tammy Beaumont (Engeland)

Ander kolwers: Lizelle Lee (18), Mignon du Preez (19), Marizanne Kapp (22), Suné Luus (23), Chloe Tryon (33) en Dané van Niekerk (43).

Boulers:

  1. Sophie Ecclestone (Engeland)
  2. Shabnim Ismail (Suid-Afrika)
  3. Jess Jonassen (Australië)
  4. Megan Schutt (Australië)
  5. Jhulan Goswami (Indië)
  6. Marizanne Kapp (Suid-Afrika)
  7. Ayabonga Khaka (Suid-Afrika)
  8. Anya Shrubsole (Engeland)
  9. Kate Cross (Engeland)
  10. Hayley Matthews (Wes-Indiese Eilande)

Ander boulers: Dané van Niekerk (28), Masabata Klaas (32), Suné Luus (45) en Chloe Tryon (47).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Hoe is dat Lee 18de is? Ons openingskolwer het dan iets soos 10 gehandhaaf gedurende die toernooi?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.