Op skool was daar ’n superster in Laerskool Pofadder se o. 11B-krieketspan. Wanneer hy lopies kry, dan wen die span. Maar op die dag wanneer hy goedkoop uitgehaal word, is die skrif sommer vroeg aan die muur vir die arme Poffies.
Dieselfde kan deesdae gesê word van die Proteas: Wanneer Quinton de Kock se kolf lekker spontaan flits, vertoon die span heel skaflik. Wanneer hy vir slegs twee lopies deur ’n prag-aflewering van die blitsige Mitchell Starc skoongeboul word, is dit egter ’n heeltemal ander storie vir die Suid-Afrikaners.
Die Proteas het gister die eerste T20-wedstryd teen Australië op die Wanderers met 107 lopies verloor. In die proses is hulle vir hul laagste T20-telling ooit (89) in minder as 15 boulbeurte uitgeknikker.
Soos wat ’n verstarde Mark Boucher ná die wedstryd gesê het: Die span het in elke liewe faset van die spel gesukkel. En nie ’n bietjie nie, sommer BAIE.
ʼn Mens kan verstaan as die Suid-Afrikaanse kolwers op ’n stowwerige baanblad in Indië teen boulers soos Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja sukkel, maar om op die Wanderers teen Ashton Agar klei te trap is darem wraggies eienaardig.
Agar, wat in die verlede soms gesukkel het om sy plaaslike Australiese eersterangse span te haal, was gisteraand so te sê onspeelbaar en hy spog met ’n boulontleding van 5/24. Boonop het hy ’n driekuns geneem toe hy van Faf du Plessis, Andile Phehlukwayo en Dale Steyn van agtereenvolgende balle ontslae geraak het.
In die afgelope paar witbalkrieket-wedstryde is ondersteuners al half gewoond dat die boulers nie die mas opkom nie, maar gisteraand was hulle bitterswak.
Hulle het hopeloos te kort en te wyd geboul en Aaron Finch en Steve Smith het behoorlik amok gemaak. Kagiso Rabada (3-45-0) en Lungi Ngidi (3-37-1) was net nie gisteraand goed genoeg nie.
Dan was die veldwerk ’n groter tragedie as een van Shakespeare se werke. ’n Hele paar keer het die veldwerkers net vir mekaar gekyk terwyl die bal letterlik reg langs hulle val.
Nee, man.
Du Plessis het darem vir ’n paar goeie vangskote gesorg.
Die volgende T20-wedstryd is Sondag en die Proteas sal met 300% moet verbeter indien hulle met die Aussies wil saamgesels.
Misluk in elke faset van die spel…? Hierdie storie hou nou al lankal aan….hier en daar ‘n opflikkering (eintlik net as die ander span ‘n afdag het )
Baie duidelik is die standaard van krieket, van skoolvlak af en op, nie van die benodigde standaard nie. Ons o19’s het net nou die dag liederlik uit die bus geval….!
Dit wil lyk of KSA se benadering is : kwantiteit sal kwalitieit oplewer……!
Groot fout…..!
Soos in Durban kry die beter bouler nie die kans om sy boulbeurte vol te maak nie. Die sogenaamde snelboulers MOET boul . Rabada kom nou al vir seker meer as ‘n jaar aan met sy swak boulwerk. Ngidi het net een of 2 goeie beurte in Durban geboul en toe is hy sommer ‘n “hero”. Kry ‘n regte boul en veldwerk afrigter. Sommige boulers boul dubbel hul kwota a.g.v WYDLOPERS, en veldwerk is nou ook al vir hoelank pateties. Dit is opmerklik toe flaffie terug is in die span speel hulke nig slegter.
Dit verskaf my oneindige genot om die Proteas te sien in duie stort. Dankie, kerels! :-)