Aussies vryf Engelse gesig in die As

Steve Smith – speler van die wedstryd. (Foto: Facebook)

Australië het Engeland se gesig so te sê letterlik in die As gevryf in die eerste kragmeting van vanjaar se toetsreeks tussen dié twee lande.

Soos redelik algemeen verwag, het die Aussies Maandag die besoekers se totale telling verbygesteek sonder om ʼn paaltjie af te staan.

Die openingskolwers, Cameron Bancroft en David Warner, het die gestelde doelwit (170) met ʼn onoorwonne vennootskap van 173 bereik.

Teen uitskeityd die vorige dag het Australië reeds 114 sonder verlies op die telbord gehad (Warner 60, Bancroft 51).

Bancroft het in sy toetsbuiging die wenlopies met ʼn grenshou gemoker, wat sy telling op 82 te staan gebring het.

Warner het 87 bygedra tot die vennootskap wat ʼn toetsrekord van 87 jaar geslaan het as die hoogste onoorwonne vennootskap om ʼn gestelde teiken te haal.

Die Aussie-kaptein, Steve Smith, wat sy 22ste toetsvyftigtal behaal het (141 nie uit nie in die eerste beurt), is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die nederlaag met tien paaltjies moet die Engelse benoud laat raak in die lig van 2013-2014 se Asreeks wat as die swakste Engelse vertoning tot dusver in dié reeks (sedert 1882) beskou word.

Destyds het hulle die vyf toetse met 381 lopies, 218 lopies, 150 lopies, agt paaltjies, en 281 lopies verloor teen ʼn Aussie-span sonder wêreldsterre.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Die Aussies moet nie verbaas wees as die Pommies hulle nog ore gaan aansit nie. Volgens die Aus kommentators het Aus die reeks al klaar gewen nog voor die einde. Vyf toetse is ‘n lang tydperk en daar gaan nog baie dinge gebeur. Hierdie is glad nie so ‘n wonderlike Aus span nie net nou die dag het hulle nog goed slae gekry teen Indie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.