Aussies wen die toets, Proteas die reeks

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Suid-Afrika het Sondag in Adelaide op die vierde dag van die derde kriekettoets teen Australië weinig weerstand met hulle laaste vier paaltjies gebied en die toets met sewe paaltjies verloor.

Die Proteas het steeds die reeks 2-1 gewen – die derde opeenvolgende keer dat die Aussies op hulle tuisveld in ʼn reeks deur Suid-Afrika geklop is.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was die honderdtal van Stephen Cook – sy tweede in tien toetse – die enigste werklike ligpunt. Hy was die laaste man uit toe hy vir 104 skoongeboul is met Suid-Afrika se telling op 250 wat aan hulle ʼn voorsprong van 126 lopies gegee het.

Die vierde dag het met Steven Cook voor die penne op 81 lopies en Quinton de Kock op nul begin. Die telling was 194/6, net 70 voor Australië se eerstebeurt-telling.

Die Proteas was in ʼn benarde posisie. De Kock kon moontlik die situasie verbeter, maar Jackson Bird betrap hom beenvoor vir 5. Die telling was toe 201/7, maar toe Vernon Philander (17) op 235/8 uitgehaal is, was die skrif aan die muur.

Kagiso Rabada kon net sewe aanteken en toe Cook skoongeboul is, het die Aussies net 127 vir ʼn oorwinning benodig.

Cook het sy 104 van 240 balle in sowat ses uur aangeteken en onder groot druk om sy plek te behou, gewys hy is goed genoeg vir internasionale krieket.

Hy was Mitchell Starc se vierde slagoffer.

Suid-Afrika het 250 lopies aangeteken en die neerlaag moet grootliks voor die deur van die kolwers gelê word wat met die uitsondering van Cook en Faf du Plessis (in die eerste beurt) se honderdtalle teleurgestel het.

Dave Warner en die nuweling Matt Renshaw het die beurt vir Australië begin en Warner was van meet af aanvallend. Hy is met sy telling op 47 in die 19de boulbeurt uitgehardloop – die tweede keer in die reeks, en wéér het Temba Bavuma ʼn aandeel daarin gehad.

In dieselfde boulbeurt het Tabraiz Shamsi die waardevolle paaltjie van Usman Khawaja met ʼn verwysde beslissing vir beenvoor gekry. Die telling was 64/2 en daar was nog ʼn (uiters vae) hoop dat die Proteas kon verras.

Maar dit was eers twee lopies duskant die wenteiken dat Kyle Abbot die paaltjie van die kaptein, Steve Smith (40), geneem het en die Aussies het met nog heelwat meer as die laaste dag oor die oorwinning behaal.

Opgesomde telkaart:

Suid-Afrika eerste beurt: 259/9 verklaar. (Kolwers: Faf du Plessis 118*, Stephen Cook 40, Quinton de Kock 24, Tabraiz Shamsi 18, Kyle Abbot 17. Boulers: Josh Hazlewood 4/68, Mitchell Starc 2/78, Jackson Bird 2/57, Nathan Lyon 1/45.)
Australië eerste beurt: 383. (Kolwers: Usman Khawaja 145, Mitchell Starc 53, Steve Smith 59, Peter Handscomb 54. Boulers: Kyle Abbott 3/38, V Philander 2/100, Kagiso Rabada 3/84, Tabraiz Shamsi 1/101.)
Suid-Afrika tweede beurt: 250. (Kolwers: Stephen Cook 104, Hashim Amla 45, JP Duminy 26, Faf du Plessis 12, Temba Bavuma 21, Vernon Philander 17. Boulers: Nathan Lyon 3/60, Mitchell Starc 4/80, Josh Hazelwood 2/41.)

Australië tweede beurt: 127/3. (Kolwers: Dave Warner 46, Matt Renshaw, Steve Smith 40. Boulers: Kyle Abbott 1/26, Tabraiz Shamsi 1/49.)

Australië wen die toets met sewe paaltjies.

SA wen die reeks 2-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico ·

Faf se arrogansie en ek is groter as krieket het ook ‘n leeue aandeel in due verloor. Na die 1ste 2 toetse het ek tenspyte hiervan nogal gedink hy kan kaptein bly maar het dit in die pas afgelope toets sumier van die tafel gevee. Eerstens sy arrogansie om met so ‘n beroerde telling in die 1ste beurt te verklaar toe hy en sy kolfmaat besig was om dinge te beredder stink van arrogansie en sy verweer daarna was om Warner te vehoed om die beurt te begin. Daar wys hy sommer sy vrees vir Warner en tesame met sy swak sportman gees om Warner nie die beurt te laat begin nie al laat die reels hom toe . Hy behoort egter te weet Warner kan op enige nommer inkom en ‘n boulaanval aan vlarde moker. Sy verklaring en swak sportmanskap het Aus die sielkundige hupstoot gegee wat hulle nodig gehad het en daar vind hy uit Aus het meer as een Warner. Verder kon sy boulers nie hond haar af maak noudat hy nie meer die bal kon dokter nie! Nou wonder ‘n mens oor daardie suiglekkertjie in die vorige toetse wat die boulers van SA oorheers het!

Kobus ·

Nico….Ek stem heelhartig saam….soos my vorige kommentaar getuig…is dit ook my siening…Arrogansie in die ergste graad of die mentlekkertjies het in die verlede die ding vir ons krieket gedoen

Franna ·

Nico en Kobus julle weet werklik nie veel van krieket af nie! Ook nie veel van kaptein wees en taktiek nie! Dit was ‘n berekende risiko wat hy geneem het en dit kon beide kante toe gegaan het! Hy het wel die besluit geneem om te verklaar om ‘n uitslag af te dwing met die wete dat hy kan verloor! As hulle gewen het was hy die held en julle natuurlik stil op die bank met jou bier in die hand! Maar knape soos julle sal altyd arrogansie skree as ‘n kaptein met rugraat en guts ‘n besluit neem! Julle spring ook op die wa van eenogige AUS pers met die balpeuter episode. Almal weet teen die tyd dat ‘n lekker of suiker GEEN invloed op die bal kan hê nie. Doen bietjie self navorsing en luister na spesialiste as om soos papagaaie te napraat wat die klomp Australiese pers te sê het. ‘n Kaptein met selfvertroue en leierskap is nie altyd gewild nie maar kry die ‘job’ gedoen. Dis julle reg om nie van hom te hou nie maar hou eerder julle monde oor iets waarvan julle duidelik niks weet nie.

Henry ·

Dankie Franna!!!
Jy sê alles wat gesê moet word om vir Faf in die bresse te tree.
Nietemin wil ek oorle’ Abraham Lincoln se bekende wysheid byvoeg:
“Better to remain silent and be thought a fool, than to speak and remove all doubt.”

Johann ·

Waar is die dae toe ons nog internasionale snooker, ook 8/9-bal op die TV kon sien?

Nico ·

Jan nee ek kyk nie want ek kan nie DSTV bekostig nie. Ek volg maar deur so gereekd ek kan op cricinfo te gaan loer. Johan ja ek mis ook die kompetisies soos snoeker, biljart, veerpyltjies ens. wat ons jare terug gereekd Saterdae en Maandaeaande op TV1 kon sien. Al wat ek nou sien is daardie boelie sport wat hulle sokker noem en dit staan my nie aan nie.

Jan ·

Nico, jy kan die koffie of bier bring, ek sal vir ons tjips kry, biltong, dan kuier ons een Saterdag middag saam, sommer tot laat aand. O’ja ons moet dan net iemand met ‘n DSTV kry.

James ·

Baie geluk aan Faf en sy manne,die aussies het nie so ń pak slae verwag nie,verskoon die afr.nie baie goed daarmee nie,maar hou daarvan om met julle te gesels en sterkte in hierdie moeilike tye groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.