Die Pakistan-kaptein Babar Azam het gister op SuperSportpark amper eiehandig die Proteas geklop. Die talentvolle kolwer het ’n pragbeurt van 122 gespeel om toe te sien dat sy span met gemak ’n teiken van meer as 200 lopies gejaag het.
Trouens, daar was nog twee boulbeurte en nege paaltjies in die Pakistan-kolfbank oor toe Fakhar Zaman vir Lizaad Williams na die grens gestuur het om die wedstryd vir die besoekers te beklink.
Azam het ’n openingsvennootskap van 197 lopies saam met Mohammad Rizwan geniet en hy het 15 viere en vyf sesse in sy beurt van 59 balle geslaan.
Vroeër het Janneman Malan (55 van 40 balle) en Aiden Markram (63 van 31 balle) die grondslag vir ’n goeie Protea-telling van 203/5 in hul toegelate 20 boulbeurte gelê.
Maar Azam en Rizwan het verwoesting onder die Protea-boulers gesaai.
Sisanda Magala (0/38 in 3 boulbeurte) en Beuran Hendricks (0/55 in 4 boulbeurte) het swaar geleef, terwyl Andile Phehlukwayo weer eens nie as bouler ingespan is nie.
Volgens Heinrich Klaasen is Phehlukwayo se selfvertroue-tenk effens leeg en dit was nie nodig om hom in te span nie omdat hy spesialis-boulers tot sy beskikking gehad het.
Maar as ’n speler se selfvertroue laag is, sal Wiaan Mulder nie ’n beter keuse wees nie; en waar is Kyle Verreynne?
Die Protea-kaptein het Azam se vertoning geloof en gesê dit is moeilik om ’n telling te verdedig wanneer hy in só ’n bui is.
Daarbenewens het die Suid-Afrikaners al ’n paar vangskote in die reeks verbrou.
“Wanneer ons veldwerk oefen, is die ouens briljant. Dalk probeer ons te hard in die wedstrydsituasie en ons bly nie kalm nie,” het Klaasen gesê.
Die Proteas sal môre die laaste wedstryd op SuperSportpark moet wen as hulle nie nog ’n T20-reeks wil verloor nie.
TV-dekking was swak. Na Beuran Hendricks in net 17 balle 40 lopies afgestaan het, wou ek sien hoe vinnig hy die 50-tal haal. Maar die bouler-statistieke is nie in sy laaste beurt gewys nie.
Die kaptein van die span wat tweede boul behoort ‘n oorgee-opsie te he. In skaak is dit slegte maniere om te speel tot jy geskaakmat word.
So ons speel Andile as n spesialis kolwer??? Wonder in hoeveel van die ander lande hy sal span kry as n internationale kolwer… En dit sluit Ierland en al die ander Klein lande in. Swak keuses. Bavuma se ons moet aalvallende krieket speel, maar ons stert begin op nr 6. England kolf tot by nr 10, groot verskil Temba