Bangladesj die harnas in vir bitsige Proteas

Mahmudul Hasan Joy op pad terug na die kleedkamer. Foto: Marco Longari/AFP.

“Sledging”, of dan tart of koggel in Afrikaans, is so deel van krieket soos goëlballe en glipwerk. ’n Tikkie sielkundige oorlogvoering om ’n kolwer of bouler mee te ontsenu.

Bangladesj voer egter nou aan dat die Proteas dinge ’n bietjie te ver in die eerste toets in Durban gevat het.

Die Suid-Afrikaners het die wedstryd met 220 lopies gewen nadat Keshav Maharaj en Simon Harmer amok gemaak het om die besoekers vir 53 lopies in hul laaste kolfbeurt uit te knikker.

Die dronkgedraaide Tiere, wat ook oor sommige van Marais Erasmus en Adrian Holdstock se beslissings gekla het, meen dat die skeidsregters ook nie genoeg gedoen het om die vurige Proteas in toom te hou nie.

Volgens Jalal Yunus, een van Bangladesj se hoofkrieketmanne, het die Suid-Afrikaners, veral Mahmudul Hasan Joy, se ore laat tuit terwyl hy gekolf het.

Die openingskolwer het in die eerste beurt 137 lopies gemoker, maar hy is daarna vir slegs vier lopies deur Maharaj skoongeboul.

“Hulle het hom omsingel toe hy gekolf het en iets vir hom gesê. Natuurlik kon hy nie daarop reageer nie, want hy is ’n junior speler. Dit was betreurenswaardig. In plaas daarvan om die situasie te beheer het die skeidsregters ons spelers gewaarsku wanneer ons oor die gekoggel gekla het,” het Yunus gesê.

Hy het egter erken dat al twee spanne in woordgevegte betrokke was, maar hy glo dat die Proteas dinge in die rooi gedruk het.

“Dit is nie aanvaarbaar nie en ons veroordeel dit ten sterkste. Ons moet die skeidsregters se beslissings aanvaar, maar die Internasionale Krieketraad (IKR) moet beslis weer begin om van neutrale skeidsregters gebruik te maak.”

Erasmus is onlangs deur die IKR as die skeidsregter van die jaar aangewys.

Intussen is Dean Elgar, Protea-kaptein, in sy noppies met Maharaj en Harmer se vertoning. Hulle het gesamentlik 14 paaltjies in die wedstryd geneem en dit is die eerste keer in ’n baie lang ruk dat Suid-Afrikaanse draaiers vir al tien paaltjies in ’n beurt verantwoordelik is.

“Dit is ongelooflik om hulle in aksie te sien en die meeste kolwers sou waarskynlik vandag teen hulle gesukkel het,” het Elgar ná die afloop van die wedstryd gesê.

Die tweede toets begin Vrydag op St. George-park.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Ons Suid-Afrikaners is vurig in alle sport, ons haat dit om te verloor. Al die ander spanne laat ons ook maar deurloop as ons op hulle bodem speel. Ek persoonlik dink dit is maar net n geval van SUUR DRUIWE. Ons het nie gekla toe hulle ons gewen het in die ODI’S nie.

B-Man ·

Dit is die eerste keer na SA se hertoelating dat draaiers 10 paaltjies neem. RSG het gistermiddag berig dat dit in die 50’s ook gebeur het.

Jack ·

Sledging.
Ek het altyd gehoor dat Rugbe ‘n spel vir boewe was gespeel duer here en sokker ‘n spel vir here gespeel duer bowe, MAAR krieket was ‘n spel vir here gespeel deur here.
Wat het van die ou Engelse gesegde geword: “That’s not cricket”.

Theo ·

Welkom tot Internationale krieket.Sledging word deur al die spanne gedoen en as hulle nie Suid Afrika se sledging kan vat nie bly weg van die Aussies.

Casper ·

Dit is baie waar woorde.Hulle kan jou tot die uiterste beproef en hulle toeskouer is ongemanierd.Spelers vloek jou ook lelik op die veld en dan gebruik hulle skuurpapier om ‘n wedstryd se gang te verander.

Waarnemer ·

Mnr Mamudul Hassan Joy en die hele Bangladesh se krieket span,kyk,my hart bloei vir julle maar regtig,om almal uitgehaal te word vir 53 lopies….sorry,the best team won!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.