Bangladesj na twee dae teen die planke

Hashim Amla – slaan sy 28ste honderdtal (Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft)

Die eensydige toetsreeks tussen die Proteas en Bangladesj is seker water op die meul van die voorstanders dat vyfdaagse toetskrieket verkort moet word.

Suid-Afrika se kolwers het Saterdag op die tweede dag van die tweede kriekettoets teen Bangladesj op dieselfde trant as Vrydag voortgegaan en Bangladesj met uitskeityd teen die planke gehad op ʼn dag waar net 74 beurte geboul kon word.

Vier honderdtalle deur die Suid-Afrikaanse kolwers het Faf du Plessis in staat gestel om die Proteas se beurt op 573/4 gesluit te verklaar. En toe het Kagiso Rabada die vyfde keer vyf paaltjies in ʼn kolfbeurt geneem en is Bangladesj vir net 147 uitgehaal.

Bangladesj het in hulle opvolgbeurt sewe lopies sonder verlies op die telbord gehad toe die penne uitgetrek is.

Duanne Olivier was weer effens wild en bont met sy boulwerk in die toerspan se eerste beurt, maar ʼn mens kan nie teen 3/40 stry nie, en Keshav Maharaj en Wayne Parnell het elk ʼn paaltjie geneem.

♦  Nadat die oornag- en vroeë oggendreën die spel met 90 minute vertraag het, het Hashim Amla (89 oornag) en Faf du Plessis (62 oornag) die telling van 428/3 tot 535/4 gevoer voordat Amla in die eerste boulbeurt ná etenstyd vir 132 (254 minute, 163 balle, 17 viere) uitgehaal is. Hulle vennootskap van 247 is in net meer as 53 boulbeurte aangeteken.

Dit was Amla se 28ste honderdtal – naas Jaques Kallis se 45 die meeste deur ‘n Suid-Afrikaanse kolwer.

Dit was veral Du Plessis wat onder die boulers ingeklim het en hy het die 45 lopies agterstand teenoor Amla vinnig verklein. Sy onoorwonne 135 is in 241 minute en  181 balle aangeteken en het 15 viere ingesluit.

Quinton de Kock het toe ingekom en na 17 balle reeds op 24 gestaan. Toe Du Plessis verklaar het, was De Kock op 28.

♦ Die Proteas se vier honderdtalle in ‘n enkele kolfbeurt is slegs die tweede keer dat dit deur ‘n Suid-Afrikaanse span gedoen is. Die vorige keer was in 2006 in Wes-Indie toe Kallis, AB de Villiers, Graeme Smith en Ashwell Prince elk ‘n honderdtal geslaan het.

Vir die volledige telkaart en statistiek, klik op die skakel :http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075503/South-Africa-vs-Bangladesh-2nd-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.