Bangladesj veg terug, maar Proteas staan steeds sterk

Die Proteas staan ná drie dae van die eerste kriekettoets in Potchefstroom teen Bangladesj steeds baie sterk, maar die besoekers verdien heelwat krediet vir hulle terugvegpoging na twee moeilike dae in die veld.

Die besoekers het die grootste gedeelte van die derde dag gekolf en toe albei Suid-Afrika se aanvangskolwers, Dean Elgar (18) en Aiden Markram (15), die helde van die eerste beurt, goedkoop uitgehaal.

Teen uitskeityd was die Proteas op 54/2 reeds 230 lopies voor met agt tweedebeurt-paaltjies staande. Hashim Amla (17) en Temba Bavuma (3) kolf Sondag voort.

Bangladesj, wat na Vrydag se spel op 127/3 gestaan het, het Saterdag voortgekolf met die vierde paaltjie wat op 158 geval het.

Toe het Mominul Haque (77) en Mahmudullah (66) ʼn goeie vennootskap van 69 lopies om die vyfde paaltjie daargestel en het nog ʼn vennootskap van 65 tussen Sabir Rahman (30) en Mahmudullah gevolg (292/6).

Van 292/5 af, toe die sesde paaltjie geval het, het daar egter vyf paaltjies vir net 28 lopies gekantel. Bangladesj was op 320 almal uit wat aan die Proteas ʼn voorsprong van 170 op die eerste beurt besorg het.

Om van daar af te wen, sou vir Bangladesj baie moeilik wees.

Waaruit hulle egter moed sal put met die oog op die tweede toets wat op Vrydag in Bloemfontein begin, is die groter beheer van hulle boulers en ook die aantal kere wat hulle die Suid-Afrikaners laat bontstaan het.

Vir Suid-Afrika was sy boulwerk egter iets waaroor daar kommer moet wees.

Ja, Dale Steyn, Vernon Philander en Chris Morris se beserings laat leemtes. En toegegee, die kolfblad het die kolwers bevoordeel.

Tog pla dit die twee voorste boulers, Morné Morkel en Kagiso Rabada, gesukkel het om deur te breek. Teen ʼn top-span op hierdie maklike kolfblad sou dit veel erger gewees het.

Keshav Maharaj was aan die duur kant, maar hy het goeie beheer gehad en 3/92 geneem. En ʼn dooie kolfblad beteken nie noodwendig ʼn draaiersblad nie…

Andile Phehlukwayo het sy eerste toetspaaltjie in net ses boulbeurte geneem, en Duanne Olivier het weer met sy beheer, wat rigting en lengte betref, gesukkel.

As die reën nie gaan lol nie, wag daar Maandag straks ʼn interessante laaste dag met Bangladesj wat gewys het hulle kán kolf.

Wen behoort heeltemal buite hulle bereik te wees, maar tyd kan die Proteas dalk inhaal.

Vir die volledige telkaart en alle statistiek oor die wedstryde, klik op die volgende skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075502/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.