Bangladesj verneder flou Proteas

David Miller is vir 16 lopies uitgehaal. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

Toe die Proteas gister vir 154 lopies op SuperSportpark uitgeboul is, het sommige krieketliefhebbers waarskynlik aan die sesde eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in 1996 teruggedink.

Die Proteas het toe 129 lopies in Oos-Londen verdedig om die wedstryd met 14 lopies te wen.

Helaas kon Temba Bavuma se span nie ’n soortgelyke haas uit die hoed pluk nie en hulle het die wedstryd met nege paaltjies verloor. Terselfdertyd sal hulle ook as die eerste Protea-span bekendstaan wat ’n reeks teen Bangladesj hensop.

“Hensop” is eintlik nie die regte woord nie; die Suid-Afrikaners het die reeks op ’n skinkbord weggegee.

Volgens Mark Boucher het die tuisspan sonder enige woema gespeel; veral nadat Janneman Malan en Quinton de Kock 46 lopies binne die eerste sewe boulbeurte gemoker het.

Kyle Verreynne. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

“Dit is asof die spelers daarna aan die slaap geraak het. ’n Mens moet soms kanse waag om lopies aan te teken, maar dit het eerder gelyk asof die kolwers te bang was om hul paaltjies te verloor,” het die Protea-afrigter gesê.

Hy was ook nie tevrede met die wyse waarop die kolwers teen die Bangladesj-draaiers in die reeks klei getrap het nie.

“Ons het beter baie beter teen draaiboulwerk in Sri Lanka en die Verenigde Arabiese Emirate gevaar. Die kolwers het egter nou weer op hul ou, onsekere gewoontes teruggeval en hulle was hoegenaamd nie proaktief nie.”

Die Proteas is tans negende op die internasionale eendagkrieketpunteleer en dit is omtrent ’n wroeging om vir die volgende Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer.

“Ons plaas onsself onder onnodige druk. Ek is egter oortuig dat wanneer ons op alles suiers vuur ons oor die vermoë beskik om enige span te klop.”

Die toetsreeks is ook om die draai en met ’n hele paar spelers – onder wie Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Marco Jansen – wat hul tasse vir die Indiese Premierliga pak, staan die besoekers ’n definitiewe kans om nóg ’n reeks in Suid-Afrika te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frank ·

Buig ons nog die kniegies voor wedstryde of nie meer nie? Is BLM se saak skielik iets van die verlede? Ai, ek volg maar die vroue krieket deesdae.

N ·

Dis ok, dis nie julle skuld nie. Dit is politieke inmenging, kwota en BLM se skuld. Doen net jul bes.

Kobus ·

Prima Donnas verdien te veel. Betaal hulle ‘n basiese salaris met kommissie of bonus na gelang van resultate. Dis hoe dit in enige besigheid werk

SwartBees ·

Hulle was so verbaas oor n groter groep skare dat hulle na die mense in die pawiljoen gekyk het en nie hul oë op die bal hou nie.

piet ·

Bangladesh is ver voor op die ranglys wat die ICC World Cup Super League aanbetref. So hulle is verbasend goed in ODI’s. Definitief nie meer so swak soos in die verlede nie. Hoe ons span egter inmekaar gestort het is ‘n raaisel. Was 50 vir 1 en toe 150 almal uit. Vreemd, weet nie wat daar aangegaan het nie.

JN ·

In Afrika met Afrika se kwotas moet jy maar Afrika se standaarde en eind resultate verwag…

Adam ·

Beste nuus ooit
Wens hulle het verder verloor. Dalk moet hulle meer op krieket konsentreer , en minder op gebalde vuisie op een knie vir een of ander idiotiese rasbehepte beweging se verdraaide idiologie.
# sport politics must fall!
Daars iets om na te streef
Adam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.