Bavuma, De Kock kry blaaskans teen Nederland

Wayne Parnell. Foto: Mal Fairclough/AFP.

’n Witbalkrieketreeks teen Nederland is die Proteas se volgende kalenderinskrywing ná hulle nie vir die halfeindstryde van die T20-Wêreldbeker gekwalifiseer het nie.

Temba Bavuma (kaptein) sal saam met ander senior spelers soos Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Aiden Markram en Rassie van der Dussen ’n blaaskans geniet.

In hul afwesigheid sal Keshav Maharaj weer eens die span aanvoer, terwyl Wayne Parnell en Khayo Zondo ook nadergetrek is.

Die 32-jarige Parnell het laas in 2017 witbalkrieket vir die Proteas gespeel, terwyl hy ook ’n Kolpak-kontrak met Worcestershire onderteken het.

Hy het in 65 eendagwedstryde vir Suid-Afrika 94 paaltjies teen ’n gemiddeld van 29,12 geneem, terwyl hy 508 lopies geslaan het.

Volgens Victor Mpitsang, nasionale keurderbaas, was Parnell oorstelp van vreugde toe hy gehoor het dat hy weer speelkans vir die Proteas kan kry.

“Wayne is ’n ervare speler en sedert hy oorsee gespeel het, is hy ook baie meer kundig. Met die ander speler wat ’n blaaskans geniet, bied dit ons die perfekte geleentheid om na ons diepte te kyk,” het Mpitsang aan Cricinfo gesê.

Dan het Zondo die Proteas in vyf eendagwedstryde verteenwoordig waarin hy 142 lopies geslaan het, terwyl hy sy 3 743 plaaslike eendaglopies teen ’n gemiddeld van net meer as 30 en ’n treftempo van 76,09 aanteken.

Janneman Malan is ook weer deel van die Protea-planne nadat hy vroeër ’n rits honderdtalle vir die span geslaan het.

Die Kaapse kolwer het in sy voorlaaste wedstryd vir Suid-Afrika 121 teen Sri Lanka in Colombo gemoker en baie ondersteuners het sy weglating uit die Proteas se T20-Wêreldbekergroep bevraagteken.

Zubayr Hamza en Ryan Rickelton is vir die eerste keer deel van die nasionale eendaggroep nadat hulle goed in die plaaslike reekse vertoon het.

Daar is egter nog geen teken van Rilee Rossouw nie.

Proteas teen Nederland: Keshav Maharaj (kaptein en draaier), Daryn Dupavillon (snelbouler), Zubayr Hamza (kolwer), Reeza Hendricks (kolwer), Sisanda Magala (snelbouler), Janneman Malan (kolwer), David Miller (kolwer), Lungi Ngidi (snelbouler), Dwaine Pretorius (veelsydige speler), Andile Phehlukwayo (veelsydige speler), Wayne Parnell (veelsydige speler), Ryan Rickleton (kolwer), Tabraiz Shamsi (draaier), Kyle Verreyne (paaltjiewagter), Lizaad Williams (snelbouler) en Khaya Zondo (kolwer).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek ondersteun dan vir Nederland want ek ondersteun enige span wat teen die
kwota kniebuigers speel.

jzjz05 ·

Ek daag hulle uit om hulle uit te spreek teen n rassitiese SA regering wat plaasmoorde stilswyend toe kyk ,en op die kleur van n mens se vel toe laat om aansoek te doen vir werk.en nog baie ander voorbeelde van ras diskrumiasie. Wys ons julle is erenstig oor alle rassities gebeure en nie net een nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.