Bavuma-era begin op spannende noot

Temba Bavuma was aan die stuur van sy eerste wedstryd as die Proteas se witbalkrieket-kaptein. (Foto: Phill Magakoe/AFP Photo)

Krieket is een van daardie sportsoorte waar ’n mens nooit met sekerheid kan sê wie uiteindelik met die louere sal wegstap nie.

Vandag op SuperSportpark het dit gelyk asof Pakistan die eerste eendagwedstryd teen die Proteas op ’n drafstap sou wen met hul telling op 186/1 ná 31,5 boulbeurte.

Babar Azam het die vorige aflewering van Anrich Nortjé na die grens gestuur om ’n briljante honderdtal aan te teken en die Proteas se telling van 273/6 het na hopeloos te min lopies gelyk.

Maar Nortjé (4/51) het kort daarna van Azam ontslae geraak en hy het nog drie vinnige paaltjies – in ’n mate te danke aan Temba Bavuma se instruksie om die besoekers se kolwers met kort aflewerings te peper – geneem.

Skielik was Pakistan se telling 203/5, maar ’n goeie vennootskap tussen Mohammad Rizwan(40) en Shadab Khan (33) het hul kastaiings uit die vuur gekrap.

Of so het almal gedink.

Die laaste twee boulbeurte van die wedstryd het vir ’n verbroude vangskoot, ’n foutbal, ’n grenshou, ’n paaltjie en die uiteindelike wenlopies gesorg.

Pakistan het uiteindelik die wenlopies vanaf die laaste aflewering van die wedstryd behaal toe Faheem Ashraf vir Andile Phehlukwayo deur die dekveld gespeel het.

Ja, die Bavuma-kapteinskapera het weliswaar met ’n nederlaag van drie paaltjies begin, maar ten minste het dit vir ’n lekker spannende stryd gesorg.

Die Proteas se Rassie van der Dussen vier sy eerste eendagkrieket-honderdtal. Hy het uiteindelik ’n onoorwonne beurt van 123 gespeel. (Foto: Phill Magakoe/AFP Photo)

Vroeër het Rassie van der Dussen maar gedoen wat van ’n Rassie in Suid-Afrikaanse sport verwag word en hy het sy span uit die moeilikheid gehelp.

Die 32-jarige kolwer het die Protea-kolfskip éérs saam met David Miller na ’n veilige hawe gestuur nadat die tuisspan drie vinnige paaltjies verloor het en tóé die lang steel ingelê om sy eerste internasionale honderdtal in die formaat van die spel aan te teken.

Hy het uiteindelik ’n onoorwonne skitterbeurt van 123 gespeel en sy kolfgemiddeld in eendagkrieket is nou meer as 80 lopies per wedstryd.

Verder het Nortjé ook met sy vurige boulskof beïndruk, terwyl Phehlukwayo so byna die wedstryd vir die Proteas beklink het toe Pakistan net drie lopies vanaf die laaste boulbeurt benodig het.

Maar die Suid-Afrikaners sal een of ander tyd moet leer om hierdie tipe wedstryde weer te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Steve ·

Solank hierdie besoedelde land kleur voor meriete stel sal ons bly wat ons is. Verloorders.
Feit is dat die BEE spelers niks bydra nie. Net daar om hul nommers vol te maak. En ons wit spelers is sterre in oorsee spanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.