Bavuma gaan witbal-reeks teen Indië misloop

Temba Bavuma (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Die Proteas se Wêreldbeker-kaptein, sowel as sommige ander senior spelers, sal twee witbalreekse teen Indië misloop.

Krieket Suid-Afrika het Maandag die groepe vir die T20- en eendagtoer aangekondig, en sommige gesoute spelers uit die komende multiformaattoer in Suid-Afrika weggelaat.

Temba Bavuma en die snelbouler Kagiso Rabada gaan nie deelneem aan die beperkte boulbeurtereeks nie. Hulle berei voor vir twee wedstryde in die Wêreldtoetskampioenskap wat op 26 Desember in Centurion begin.

Snelboulers Gerald Coetzee, Lungi Ngidi en Marco Jansen sal net in die eerste twee T20-wedstryde speel voordat hulle na hul provinsiale spanne terugkeer om in plaaslike meerdagreekse voor die toetsreeks te speel.

Rob Walter, eendagafrigter, sê die besluit is in oorleg met die toetsafrigter, Shukri Conrad, geneem.

“Ons het ʼn besige somer wat voorlê wat begin met die T20’s en dan eendagwedstryde teen Indië. Daarom het ons besluit om verskeie senior spelers uit die groepe weg te laat,” het Walter gesê.

“Hierdie besluit is saam met Shukri geneem aangesien ons klem plaas op die rooibalbeen van die toer, wat beteken dat hulle eerder vir die toetsreeks sal voorberei deur krieket op nasionale vlak te speel.”

Volgens Conrad wil KSA verseker dat hy ʼn sterk begin in die Internasionale Krieketraad (IKR) se Wêreld-toetskampioenskapsiklus het deur teen een van die beste spanne ter wêreld op tuisbodem te speel.

Die toetsgroep bevat drie nuwe spelers: die kolwer David Bedingham, die snelbouler Nandre Burger en die kolwer Tristan Stubbs.

Burger gaan sy internasionale buiging in al drie spanne maak. Nog ʼn nuweling, die veelsydige Mihlali Mpongwana, is vir die eendagreeks gekies.

Die eerste T20-wedstryd word Sondag in Durban gespeel. Daar sal drie T20-wedstryde en drie eendagwedstryde wees.

Indië sal ook sonder sleutelspelers wees vir die witbalwedstryde, met gereelde kaptein Rohit Sharma en oudkaptein Virat Kohli wat voor die toetswedstryde ʼn blaaskans kry.

Só lyk Suid-Afrika se groepe vir die multiformaattoer.

  • T20 internasionale wedstryde:

Aiden Markram (kaptein), Ottniel Baartman, Matthew Breetzke, Nandre Burger, Gerald Coetzee, Donovan Ferreira, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, David Miller, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs, Lizaad Williams.

  • Internasionale eendagwedstryde:

Aiden Markram (kaptein), Ottniel Baartman, Matthew Breetzke, Nandre Burger, Tony de Zorzi, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Mihlali Mpongwana, David Miller, Wiaan Mulder, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi , Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Lizaad Williams.

  • Toetse:

Temba Bavuma (kaptein), David Bedingham, Nandre Burger, Gerald Coetzee, Tony de Zorzi, Dean Elgar, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Keegan Petersen, Kagiso Rabada, Tristan Stubbs, Kyle Verreynne.

Hier gaan die kragmetings plaasvind:

  • 10 Desember, eerste T20-internasionale wedstryd in Durban, KwaZulu-Natal;
  • 12 Desember, tweede T20- internasionale wedstryd in Gqeberha, Oos-Kaap;
  • 14 Desember, derde T20- internasionale wedstryd in Johannesburg, Gauteng;
  • 17 Desember, eerste eendag internasionale wedstryd in Johannesburg, Gauteng;
  • 19 Desember, tweede eendag internasionale wedstryd in Gqeberha, Oos-Kaap;
  • 21 Desember, derde eendag internasionale wedstryd in Paarl, Wes-Kaap;
  • 26 tot 30 Desember, eerste toetswedstryd in Centurion, Gauteng;
  • 3 tot 7 Januarie, tweede toetswedstryd in Kaapstad, Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kiepie ·

Waar is Dewald Brewis? Gaan hulle hom aanhou ignoreer todat hy ook vir Australië gaan speel?

Hennie Biebouw ·

Ottniel Baartman is amper 31, Nandre Burger 28. daar géén ander jonger belowende boulers nie?

Frank ·

Begin ernstig bedenkinge oor Walther se vermoeens kry.
Waar kan jy beter voorberei en jou verlore vorm herwin as op jou bekende tuisveld en omstandighede teen Indie? Bavuma is goed, hy het net vorm verloor. Moes nooit in die WB gespeel het nie, op grond van sy huidige vorm. Maar hy moet een of ander tyd kans kry om weer vorm te herwin. Rabada het steeds al die talent in die wereld, maar hy het sy vuur verloor, wat die snelbouler daardie “edge” gee. Hy moet sy KOP en sy HART regkry

SwartBees ·

Geen verlies vir span SA nie.
Al is hy in die span loop hy steeds die wedstryd mis. Hy moet terug club krieket toe en sy vorm herwin.

George ·

@Kiepie, Brevis het nog glad nie sy plek in gespeel nie. Op watter “meriete” wil jy hom in sit?

George ·

@Swartbees, het jy dieselfde gese van Markram toe hy vir 5 jaar 4maande geen 100 tal geslaan het nie, en gespeel het taan n avg van 24-28 vir langer as 5 jaar?

George ·

Goed dat hy die T20 mis, maar ons kort hom in die ODI span. Naas Rassie is hy ons 2de beste bat, ons beste batsman ook van 2023.

JN ·

Dank Vader..
Almal weet hy moes nie in die werêld beker gewees het nie maar ongelukkig oor sekere reels, het nie vorm of bekwaamdheid saak gemaak nie..
Lyk maar dielselfe in baie ander departemente in Suid Afrika waar dit ok maar net nie saak maak nie met dieselfde eind resultate.. Een groot afwaartse spiraal.

JohanR ·

Geer rerig nie om as ek Temba Bavuma nooit weer op ‘n krieket veld sien nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.