Bavuma het oog op Wêreldbeker

Temba Bavuma. Foto: Manjunath Khan/AFP.

Een van die geykte uitdrukkings wat gereeld in die wêreld van spansport gebruik word, is dat die betrokke kaptein en bestuur besig is om ’n span vir ’n komende wêreldtoernooi te “bou”.

Normaalweg is wedstryd-uitslae in die opbou tot die internasionale skouspel dan nie van so ’n groot belang nie; dit gaan as’t ware oor die eindbestemming en nie oor belangrike kuipstoppe langs die pad nie.

Die kapteinskap-era van Temba Bavuma begin binnekort met die witbalkrieketreeks teen Pakistan. Die 30-jarige kolwer sal die septer tot na die 2023-Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië swaai.

Dan is daar ook ’n internasionale T20-skouspel op die horison.

“In die aanloop tot 2023 het ons nou die geleentheid om die spelstyl en die wyse waarop ons ons stempel op wedstryde af druk, te definieer,” het Bavuma gesê.

Volgens Bavuma was die Proteas nog altyd ’n mededingende witbalkrieketspan. Dit is egter nou belangrik om enige tyd en enige plek wedstryde te wen; ’n beter ingesteldheid is waarskynlik die geheime wapen wat hierdie droom kan verwesenlik.

In vorige Wêreldbekertoernooie was die Suid-Afrikaners goed op dreef, net om in ’n belangrike uitklopwedstryd vas te val.

In 2019 het hulle egter ’n nagmerrie-toernooi in Engeland gehad en hulle was sommer vroeg reeds op die lughawe op pad terug huis toe.

Dan help die administratiewe fiasko waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom bevind ook nie veel nie. Minister Nathi Mthethwa is juis weer op die oorlogpad nadat die nasionale krieketbeheerliggaam se lederaad nie veel ooghare vir die tydelike raad se voorstelle gehad het om die sport reg te ruk nie.

Gelukkig is daar spelers waaroor ’n mens kan opgewonde raak.

Kyle Verreynne brand om sy talent op die internasionale verhoog uit te stal, terwyl Sisanda Magala een van die land se voorste witbalkrieket-boulers is.

Maar jy hoef nie ’n Nostradamus te wees om te voorspel dat Suid-Afrikaanse krieket dalk tot 2023 gaan spartel om sy huis in orde te kry nie.

Die eerste eendagwedstryd teen Pakistan begin op 2 April op SuperSportpark in Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Keep on dreaming cowboy.S A will never win a cricket world cup and you know why.

Steve ·

Bou? Ons bou sedert 1994 sover ek kan onthou. Solank meriete niks tel nie en sekere rasse gekies word wat nie eers n skoolspan op meriete sal haal nie, kan ons vergeet van enige sukses in sport.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.