Bavuma nou ook toetskaptein

Temba Bavuma en Dean Elgar. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Temba Bavuma sal Suid-Afrika voortaan op die toetsverhoog lei, maar Krieket Suid-Afrika (KSA) het bevestig dat hy nie meer die leisels op die T20-verhoog sal vasvat nie.

Die 32-jarige kolwer sal Dean Elgar se rooibalkrieket-skoene volstaan nadat die Proteas hul laaste twee reekse (teen Engeland en Australië) verloor het.

“Ons vertrou dat Temba aan al ons verwagtinge sal voldoen en sal help om die span vorentoe te neem ná Dean se uitstekende werk,” het Enoch Nkwe, KSA se direkteur van krieket, gesê.

Hoewel die 35-jarige Elgar nie sleg gevaar het nadat hy in 2021 as die nasionale toetskrieketkaptein aangewys is nie, was sy leierskap onder die vergrootglas tydens die rampspoedige toer na Australië en veral Ian Chappell het sy besluitneming bevraagteken.

Hoewel hy ook met die kolf gesukkel het, was hy ná afloop van die reeks oorgehaal om steeds sy beste vir die Proteas as kaptein te gee.

“Ek is iemand wat van druksituasies hou en ek beskik ongetwyfeld nog oor die nodige honger en dryfkrag. Ek ken myself en ek weet dat ek sterker sal terugkom,” het Elgar destyds gesê.

Nkwe het hom nou vir sy bydrae tot die Protea-sukses teen onder meer Indië, Bangladesj en die Wes-Indiese Eilande geloof.

“Ek wil Dean vir sy toewyding oor die afgelope twee jaar bedank. Hy het die Protea-skip na ʼn veilige hawe gestuur en die span is nou goed geplaas op die Wêreldtoetskampioenskap-punteleer.”

Op sy beurt het Bavuma nog net een honderdtal in sy 54 toetse aangeteken, maar vir die afgelope paar seisoene was hy beslis Suid-Afrika se bestendigste toetskolwer.

Hy het ook met sy spelpeil tydens die T20-Wêreldbeker in Australië – waar die Proteas deur Nederland uitgeboender is – gesukkel. Hy het egter weer met sy kolfwerk in die onlangse eendagkrieketreeks teen Engeland beïndruk.

“Ons is trots op die werk van al twee spelers en ons sien uit na die volgende Protea-hoofstuk onder toesig van Shukri Conrad en Rob Walter.”

Die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande begin op 28 Februarie in Centurion.

Bavuma se rekord in toetskrieket: In 54 wedstryde het hy 2 979 lopies teen ʼn gemiddeld van 34,53 geslaan. Hy spog met 20 vyftigtalle, maar kon nog net een honderdtal (102* teen Engeland) aanteken.

Protea-toetsgroep vir reeks teen die Wes-Indiese Eilande: Temba Bavuma (kaptein), Gerald Coetzee, Tony de Zorzi, Dean Elgar, Simon Harmer, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Senuran Muthusamy, Anrich Nortjé, Keegan Petersen, Kagiso Rabada en Ryan Rickelton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.