Bavuma opgewonde oor Miller se selfvertroue

David Miller en Temba Bavuma. Foto Indranil Mukherjee/AFP. INDRANIL MUKHERJEE / AFP)

David Miller was so te sê onstuitbaar in die jongste weergawe van die Indiese Premierliga.

Nie net het hy die trofee saam met die Gujarat Titans gewen nie, maar hy het ook met die kolf (481 lopies teen ’n gemiddeld van 68,71 en ’n treftempo van 142,72) uitgeblink. Terselfdertyd het hy gewys dat hy ’n speler vir die groot oomblik is toe hy drie agtereenvolgende sesse vanaf die laaste boulbeurt gemoker het om ’n belangrike wedstryd vir sy span te wen.

Nou hoop Temba Bavuma dat die 32-jarige kolwer tot soortgelyke heldedade in sy Protea-drag in staat is. Die Suid-Afrikaners is van 9 Junie in ’n T20-reeks teen Indië gewikkel.

“Dit is altyd lekker om te sien wanneer iemand goed speel. David het met ongelooflike krieket in die IPL vorendag gekom en dit het sy selfvertroue ’n definitiewe hupstoot gegee,” het Suid-Afrika se witbalkrieket-kaptein gesê.

Miller het tydens die IPL gesê dat Hardik Pandya (kaptein) en die Gujarat-spanbestuur hom op sy gemak laat voel het.

David Miller in aksie vir die Gujarat Titans. Foto: Twitter.

“Ek weet presies wat my rol in die span is, ek kry gereeld speelkans en ek geniet my spanmaats se ondersteuning,” het die hotklou-kolwer in ’n onderhoud met Star Sports gesê.

Volgens Bavuma is Miller steeds ’n baie belangrike skakel in die Protea-opset, ’n speler wat wedstryde vir sy span kan wen.

“As David voel dat hy meer waarde tot die span kan voeg deur in ’n hoër posisie te kolf, kan ons beslis daaroor gesels. Daar is nie ’n manier dat ons ’n speler van sy vermoë enigsins wil beperk nie.”

Benewens Miller kan die Proteas ook op die aanvallende kolfvermoë van Quinton de Kock en Aiden Markram steun.

Al twee spelers het goed in die IPL vertoon, met De Kock wat ’n onoorwonne 140 lopies vir die Lucknow Super Giants teen die Kolkata Knight Riders geslaan het.

Tog is Faf du Plessis (468 lopies teen ’n gemiddeld van 31,20) en Dewald Brevis (161 lopies teen ’n treftempo van 142,47) nie deel van die Protea-planne nie.

Volgens Bavuma moet die jong Brevis eers ’n bietjie meer provinsiale krieket speel voordat hy die sprong na internasionale krieket maak.

“Ons sal mooi na hom kyk. Dit is ook belangrik dat hy genoeg tyd gegun word om sy spel te ontwikkel.”

Protea-groep: Temba Bavuma, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs en Rassie van der Dussen.

Bepalings:

Eerste wedstryd: 9 Junie

Tweede wedstryd: 12 Junie

Derde wedstryd: 14 Junie

Vierde wedstryd: 17 Junie

Vyfde wedstryd: 19 Junie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.