Bavuma sien uit na kapteinskap

Temba Bavuma sal die Protea-leisels in eendag- en T20-krieket vasvat. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Krieket Suid-Afrika het gister vir Dean Elgar as sy toetskaptein aangestel, met Temba Bavuma as die leier in die witbalkrieketformate.

Dit beteken dat Quinton de Kock, wat oënskynlik nie die kapteinskaprol baie geniet het nie, voortaan net op sy pligte as paaltjiewagter en voorslagkolwer kan konsentreer.

“Ons is dankbaar jeens Quinton vir sy harde werk as kaptein van die witbalkrieketspanne, terwyl hy ook die leisels van die toetsspan moes vasvat terwyl ons nog na ’n geskikte kandidaat gesoek het,” het Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, gesê.

Volgens Smith is al twee aanstellings vir die volgende twee jaar van krag, wat dus beteken dat die 30-jarige Bavuma die Proteas in die komende Wêreldbeker-toernooie sal aanvoer. Die volgende T20-skouspel is juis om die draai.

Hy het egter nog net handjievol pajama-krieketwedstryde (ses eendagwedstryde en agt T20-kragmetings) vir die Proteas gespeel, maar hy het onlangs die Lions na glorie in die plaaslike T20-reeks gelei.

Hy was ook een van die voorste lopiemakers in die reeks.

Hy is een van die beste veldwerkers in die span. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Daar sal egter diegene wees wat mor oor sy gebrek aan ervaring, maar ’n mens moet ook in ag neem dat Smith – een van die Proteas se suksesvolste leiers ooit – self net agt toetse gespeel het voordat hy as kaptein aangewys was.

Volgens die voormalige kaptein tel Bavuma se bestendigheid in sy guns, terwyl hy ook die ondersteuning van spelers en afrigters geniet.

“Ons was nog altyd bewus van Temba se leierseienskappe en die manier waarop hy die Lions takties op die veld gelei het, saam met die terugvoer wat ons van die spelers ontvang het, was baie positief.”

Op sy beurt verwelkom Bavuma die bykomende verantwoordelikheid met ope arms.

“Om die Proteas aan te voer is een van my grootste drome en ek sien daarna uit om op Quinton se nalatenskap voort te bou,” het hy gesê.

Hy sal Suid-Afrika se eerste etnies swart krieketkaptein wees en hoewel hy die erns daarvan besef, wil hy ook sy eie stempel op internasionale krieket afdruk.

“Ek verstaan die belangrikheid van alles, maar saam met die feit dat ek as die Proteas se eerste swart kaptein bekend sal staan, wil ek ook onthou word as iemand wat die span baie goed op die veld gelei het en wat vir sy eie nalatenskap verantwoordelik was.”

“Kapteinskap is om die balans tussen jou eie ambisie as speler en die belange van die span te vind. Alles wat ek doen en die besluite wat ek neem is gemik op die beswil van die span.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

Sal maar moet sien, weet nie hoe sy CV aangaande kapteinskap lyk nie

pompies ·

Veels geluk Themba, wens jou net voorspoed toe in die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.